Van hondekos tot skadunet – dorp word rot en kaal besteel
Diewe is stelselmatig besig om Middelburg rot en kaal te besteel en inwoners kan niks meer buite los sonder dat dit ’n maklike teiken vir kriminele word nie.
Dit is die mening van werknemers wie se karre nou in die son moet staan en bak, nadat diewe gisternag vier skadunet afdakke by OH Frewin Drukkerye weg gedra het.
Die voorval is een van baie, wat inwoners verstom laat oor wat diewe alles as buit ag.
• Verlede week is ’n bejaarde egpaar se huis in Koetsstraat drie keer in een week geteiken.
Mnr Flippie en Marie Grobbelaar was vir die derde keer besteel toe ’n dief Woensdag helder oor dag oor hulle palissades geklouter het.
Die egpaar het pas terug by die huis gekom na ’n besoek aan Pretoria, toe Flippie sien hoe die verdagte oor die palissades spring. Hy het ’n kas vol koperpyp koppelings oor die heining gegooi, asook derduisende rande se elektriese gereedskap uit hulle motorhuis gedra.
Die dief het groot skade agtergelaat, nadat hy elektriese drade summier uit die grond gepluk het, en ook vyf alarmogies afgesteel het.
Die egpaar is die Sondagaand en Dinsdagoggend ook geteiken, waar hulle koperpype twee keer gesteel en hulle sonder water gelos is.
• Diewe steel ook solarligte, elektriese bedrading, koperkabels, en selfs hondekos.
Hulle sal tot jou voertuig op jou eie plaveistene pak om al vier bande af te steel.
