Petisie ná grusame veediefstal op plaas buite Middelburg
’n Petisie met 252 handtekeninge is ingedien ná die slagting van beeste op ’n plaas buite Middelburg, met boere wat beswaar maak teen moontlike borgtog vir die vier verdagtes.
’n Petisie met 252 handtekeninge is by die hof ingedien ná die slagting van vier beeste op die plaas Leeuwpoortjie, net buite Middelburg aan die Loskopdampad.
Die plaasboer, Willem Cloete, het prokureur Theo Pistorius aangestel om toe te sien dat geregtigheid geskied nadat veediewe verlede week vier dexter-beeste op sy plaas geslag en die vleis agter in ’n paneelwa gelaai het.
Volgens Pistorius was sy kliënt die slagoffer van ’n ‘gruwelike’ voorval van veediefstal. Boere en lede van die publiek maak sterk beswaar teen die moontlikheid dat borgtog aan die vier beskuldigdes, wat in verband met die voorval in hegtenis geneem is, toegestaan word.
Pistorius se firma speel ’n toesighoudende rol in die saak.
ALSO READ: Strong wind gusts toppled trees that are blocking multiple Middelburg roads
Die vier verdagtes, Vusi Mahlangu (42), Nkosinathi Vilakazi (37), Wiseman Mgidlana (42) en Thulani Nkosi (36), verskyn môre, 5 November, weer in die hof, waar hulle na verwagting om borgtog sal aansoek doen.
Petisie lig kommer oor borgtog uit
Die petisie meld dat ’n stoetbul en drie koeie met ’n gesamentlike waarde van R70 000 geslag is.
“Ons is bekommerd oor die ekonomiese impak op die eienaar, die veiligheid van boere in die omgewing en getuies, asook die risiko van verdere veediefstal,” lui die petisie.
Daar word versoek dat die ondersoekbeampte en aanklaer enige hangende sake, vorige veroordelings en bestaande borgtogstatus van elk van die beskuldigdes deur middel van getuienis aan die hof voorlê.
Een van die beskuldigdes is glo ’n dag nadat hy in verband met die Leeuwpoortjie-voorval op borgtog vrygelaat is, weer aangekeer.
Twee voertuie glo by voorval betrokke
Volgens die petisie is twee voertuie tydens die veediefstal gebruik. Die boere versoek dat ‘enige bewese verband tussen die beskuldigdes, die twee voertuie wat geskut is, ander veediefstalsake en die bestuurder wat na bewering ontsnap het’ ondersoek word.
ALSO READ: Mpumalanga matric exams pause for local elections
Die petisie spreek ook kommer uit dat die beskuldigdes moontlik kan vlug, verdere misdrywe kan pleeg, getuies kan intimideer of met die ondersoek kan inmeng.