News

Tennis-afrigter dood in sy bekende NP200 bakkie gekry

Die bekende professionele tennisafrigter en -speler, Charl Basson, is Sondagoggend dood in sy NP200 bakkie gekry.

Die bakkie was in sy motorhuis by die Jackaroo plotte (eMalahleni) parkeer.

“Hy het nog 12:55 Saterdag my boodskap gelees,” sê een van sy vriende, Fanus van Aswegen. Daarna kon hulle hom nie in die hande kry nie.

Charl was die afgelope tyd baie depressief.
Hy het vir vier maande by Fanus-hulle aan huis gebly in Middelburg en sou eersdaags in sy eie meenthuis op die dorp intrek.

Die vriendekring was juis besig om hom te help om alles in die meenthuis reg te kry.

Saterdagoggend het Charl aangedui dat hy ’n kragkabel op sy plot in eMalahleni wil gaan haal.
Nog een van sy vriende, Michael Abraham, en Fanus, het hom verseker dat hulle albei kragkabels het en dat dit nie nodig is dat hy ry nie. Hy het egter wel eMalahleni toe gery.

Nadat Fanus vir Charl ’n boodskap gestuur het, het hy gesien dat Charl dit lees, maar hulle kon hom nie in die hande kry nie.
Michael het selfs van hul ander vriende gevra om Charl te kontak. Die foon het egter net aangehou lui.

Teen Saterdagaand was Michael baie bekommerd en is eers na die Middelburg Buiteklub om te kyk of hy nie daar is nie. Vandaar het hy oral in die dorp gesoek.
“Charl sou egter nooit alleen iewers gaan kuier nie.”

Michael het ook na Charl se nuwe meenthuis toe gery in Aerorand, maar gesien dat sy kar nie daar staan nie.

Die twee bekommerde vriende wou omstreeks 23:00 Saterdag na Charl se plot op eMalahleni toe ry, maar is deur ander vriende oortuig om nie daardie tyd van die aand uit te ry nie.
“Hulle het vir ons gesê dat hy die volgende oggend terug sal wees.”

Kort na 06:00 Sondag het Fanus gesien dat Charl nie teruggekom het na sy huis toe nie.
Daar is weer rondgebel en hulle het besluit om Charl se seun, Xander, te kontak.

Xander het dadelik iemand na die plot toe gestuur, wat die hek van die spoor afgehaal en na Charl begin soek het.
Hy het in die motorhuis op Charl afgekom wat hom in sy bekende “tennisbakkie” vergas het.

Fanus en Michael sê hulle vermoed dat Charl al Saterdagmiddag oorlede is.

• Michael noem dat hulle al van regoor die land boodskappe van medelye ontvang het van ouers en oudspelers, wat deur Charl afgerig is.

Charl was nie net ’n professionele afrigter nie, maar ook ’n briljante speler en het ’n paar jaar gelede Suid-Afrika as veteraanspeler verteenwoordig in Turkye.

“Ons het ’n tennis- en gholfmaatjie verloor. Daar is ’n groot leemte in ons vriendekring, wat nie weer gevul sal kan word nie,” het Michael gesê.

• Sy lang lys van prestasies en ’n meer volledige huldeblyk sal in die Vrydag uitgawe van die Middelburg Observer verskyn.

Lees ook:

Skok na skielike afsterwe van tennisafrigter

 
Back to top button