News

Nog geen geregtigheid vir Louie

Ten spyte van mnr. van der Ahee se getuienis wat hy self op video gemaak het, het die polisie nogsteeds geen arrestasies uitgevoer nie.

Die polisie sê geen verdagtes is tot hede geïdentifiseer in die moordondersoek na die dood van mnr. Louis van der Ahee, wat op Woensdag, 14 September 2022, in ’n eMalahleni hospitaal aan onder meer hoofbeserings beswyk het nie.

Mnr. Van der Ahee is op Sondagnag, 11 September 2022, in sy kamer by die Hermansdal Landgoed op die ou-Witbankpad deur twee mans aangerand.

Hy het na die aanranding, waartydens sy voortande uitgeslaan, en sy poniestert met ’n steakmes afgesny is, ’n video vir ’n werkskollega gestuur waarin hy beide sy aanranders op hul name geïdentifiseer het.

Een van die aanranders is deur mnr. Van der Ahee uitgewys as die broer van ’n Hermansdal werknemer wat op die landgoed woonagtig was tydens die voorval.

Die ander is ’n bekende moeilikheidmaker, wat al agter tralies was vir onder meer huishoudelike geweld en opsetlike saakbeskadiging, en glo hard voor die aanranding saam met die werknemer se broer, by bure van mnr. Van der Ahee op die landgoed gesit en drink het.

Die bure, wat na die aanval mnr. Van der Ahee se bewerings aan Middelburg Observer bevestig het, het onder meer vertel dat die poniestert na die voorval op ’n tafel neergegooi is.
Daar was ook bloed op die mans se klere en bloedspatsels is na die kuier ook op meubels van die bure gevind.

Mnr. Van der Ahee het dorp toe gevlug na die aanranding waar hy die nag in sy bakkie by ’n vulstasie deurgebring het.

’n Skokkende tweede video is ook ’n dag later deur mnr. Van der Ahee in sy woonstel gemaak, waar hy sy voortande op die spieëlkas van sy kamer, wortels en al, wys.
In dié video identifiseer hy weer sy twee aanvallers.

Volgens kolonel Donald Mdluli duur die ondersoek voort en is die saak geklassifiseer as ’n onnatuurlike sterfgeval.

Hy sê dat daar nog nie betroubare getuieverklarings bekom kon word wat arrestasies regverdig nie, ten spyte van mnr. Van der Ahee se eie getuienis op video.

Mnr. Van der Ahee se familie sê die ondersoek moet sy gang gaan.

Lees ook:

Bekende inwoner dood na bloestollende aanranding op spoglandgoed

Doodgeslaan, poniestert afgesny maar moordenaars nooit aangekeer

Slagoffer sê op video wie het hom doodgeslaan

Geen vordering met ondesoek na dood by Hermansdal

Back to top button