Die hanslam blêr, die boerbok loer en die mense se boslewe is verby
Die Koinonia-plaas is 'n jaar oud en sy inwoners vertel hul besondere verhale van vasbyt en harde werk.

Terwyl Snowy die hanslam blêrend aangedraf kom met Pietman die boerbok wat uit sy hok antwoord gee, vertel die inwoners van Koinonia elkeen hul eie verhaal oor die groei van dié Liefdesplaas.
Die Koinonia plaas, ’n projek van die Lewe in Liefde-organisasie, het sy eerste verjaardag gevier en ’n Middelburg Observer joernalis is genooi om te gaan kyk hoe die projek gegroei het.
Boonop word die Koinonia plaas se kerk op 27 Januarie ingewy!

Die plaas het nie net ’n mooi verhaal nie, maar die nege mense wat eens haweloos was, het net so gegroei.
Judy van Deventer (Lewe in Liefde) het ’n jaar gelede die stukkie grond gekry om haweloses te help.
Enigeen se moed sou in sy skoene sak as hulle sien hoe dit gelyk het.
Die gras was byna kophoogte en slegs die murasies van ’n huis en woonstel het daar gestaan.
Judy het egter met haar altyd positiewe geaardheid potensiaal raakgesien en haar geloof en harde werk het vrugte afgewerp.
Met die hulp van donateurs het die huis nou ’n dak en vensters. Daar is ’n watertenk wat water vir die krane gee en binne is dit netjies ingerig vir sy inwoners.
Nege persone wat eens haweloos was, het Koinonia hul tuiste gemaak.
Hulle sit egter nie op hul louere en wag dat iets vir hulle gedoen moet word nie!
“Met almal se harde werk, kry elkeen nou al ’n klein inkomste waarmee hulle hul badkamerbenodigdhede kan koop,” vertel Judy.
• Alida Möhr en haar lewenmaat, Petrus Venter, het bietjie meer as ’n jaar gelede saam met hul vriend, Mark Smit, in die bos langs die Keiskammastraat verlenging gebly.
Lees meer hier:
https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2022/10/18/jou-buurman-bly-in-n-bos/
Hulle was van die eerste inwoners op die plaas en het aanvanklik die seile van hul tente gebruik vir skuiling tussen die murasies.
Alida ontvang die joernalis by die deur van die plaashuis en teen die muur in die sitkamer verwelkom ook “Home, Family Blessing” bordjies die gaste.
Hul slaapkamer is langs die sitkamer.
’n Kat lê op die kassie in die kamer en Alida wys trots hul kamerkaste en netjies opgemaakte bed.
Sy kan egter nie wag om die kombuis te wys nie.
Dit is duidelik haar trots, want sy is die enigste vrou daar en maak die kos.
“Hier is ons gasstoof en onlangs het ons ook ’n koolstoof gekry. En kyk die mooi kaste wat iemand ingesit het en…..en…” word alles gewys terwyl sy die stoele om die tafel regskuif.


Af in die gang is die mans se kamers en by die badkamer staan ’n blinkskoon bad.
“Een van die dae sal ons ook ’n stort hê!” sê sy.
Buite staan die manne reg om die res van die bedrywighede van die plaas te wys.

• Daar word eers by Japie Groenewald se varkhok gekuier en kom die varke snork-snork nader vir iets te ete.
Terwyl hy gesels, roep Petrus vir Snowy (’n hanslam swartkop dorper) wat saam met ons na die varkhokke gedwaal het.
Snowy vlieg om en “blêêêr” agter Petrus aan.

• Petrus se boerbokke is volgende aan die beurt. ’n Donateur het die hokke gebou en Petrus gevra om na die bokke om te sien.
Elke boerbok het ’n naam soos Pietman, King en Spokie en Carla eet sommer uit sy hand uit.
“Ek het al my eerste salaris gekry!” vertel Petrus trots en vryf oor Lilly se kop.
• Dan stap ons na die hoender- en ganshokke waar Japie vertel dat hy alweer ’n paar kuikens in die groot hok kon bysit en daar in die week nuwe kuikens uitgebroei het.


• Broers Jacques en Christo Fourie bedryf die groentetuin, waaruit die inwoners nie net eet nie, maar hulle ook ’n klein inkomste kry.
“Ons het tamaties, groenpepers, spinasie, blomkool, komkommers, eiervrug, slaai, pampoen en beet!” sê die broers opgewonde.
• Ruhan Bruyns vertel tydens die stapsessie dat hy ook al ’n rukkie by Koinonia is en die res van die mans op die perseel help met algemene werk op die plaas.
Hy was vir ’n rukkie by oom Dirk Viljoen in sy huis op Middelburg wat hom gehelp het om sy dwelmverslawing af te skud.
“Oom Dirk het my ’n hupstoot gegee en hier by Koinonia het ek ’n kans gekry en die Here aangeneem.”
Ruhan het met blink oë gesê dat ’n boer op ’n buurplaas vir hom werk aangebied het.
Net so voor die groetsessie, kom Alida aangedraf en vra dat daar vir al die donateurs dankie gesê moet word:
“Die grootste dankie gaan aan die Here.”
Persone wat betrokke wil raak by die Koinonia plaasprojek of die plaas wil besoek, kan Judy bel by 082 802 4803.
@middelburgobserver The Koinonia Farm, which is part of the projects of the Live Love organization, celebrated their first birthday last week. It grew from a place in ruins to a home for nine people! The farm has everything, from a vegetable garden to livestock! Here are their stories. #farm #farmlife #charity #homeless #homelesspeople #kindness