Jou buurman bly in ’n bos
Die drie mense wat al vir vier maande in bosse bly, is besig om paniekerig te raak, want hulle het steeds géén heenkome nie.
Tot op hede is nie hulle of die Lewe in Liefde organisasie gekontak oor ’n moontlike blyplek nie.
Alhoewel talle mense beloftes gemaak het, bly Alida en Petrus Venter en hul vriend, Mark Smit, steeds in hul seiltente tussen die bosse naby die Mandela- en Keiskammastraat kruising. Hulle het kennis gekry van die munisipaliteit om einde Oktober uit te wees.
Lees ook: Haweloses wat tussen bosse bly moet weg
Na ’n onlangse berig het selfs mense vanaf die Vrystaat en Hartbeespoort laat weet dat hulle sal help met blyplek, maar me. Judy van Deventer (Lewe in Liefde organisasie) sê niemand het haar nog gekontak nie. Haar nommer is bygesit as enigiemand ’n blyplek vir die drie kan verskaf.

’n Handjievol mense het ook kos geskenk, “maar alles is alweer klaar en ons het dringend kos nodig om nie net vir Alida-hulle nie, maar al die ander mense wat ons help, iets te ete te gee. Ek wens ons kon méér gee, maar die aanvraag is net te hoog,” sê me. Van Deventer.
•Buiten die driestuks wat in die seiltente in die bos bly, is daar ook twee broers, Jacques en Christo Fourie, wat in ’n ander deel langs die dorp in ’n bos bly, hulle wou nie bekend maak presies waar hulle bly nie, omdat hulle bang is hulle sal ook soos die Venters, ’n ander heenkome moet soek. Min mense wat naby hulle in spoghuise bly is eers bewus van die twee bosbewoners nie.
Lees ook: Tot uit Vrystaat hulp vir bosbewoners
Me. Van Deventer help hulle ook gereeld met iets te ete.

•Persone wat vir Alida, Petrus of Mark, of selfs die Fourie broers ’n blyplek, kos en ander basiese middele kan voorsien, kan me. Van Deventer bel 082 802 4803.
•“Komaan Middelburg, ons gemeenskap het nog nooit teruggestaan vir ’n uitdaging om ander te help nie! Die Engelse gesegde sê dit so mooi: “Charity begins at home” en die nood is só hoog op eie bodem.”
