Ouma se voete jeuk en toe ‘jive’ sy die land aan die brand
“Die lewe is ’n lied en jy moet jonk bly, geniet die lewe vandag, want tomorrow may never come,” sê tannie Joyce Watkins en sy voer weer so een of twee danspassies uit.
Die 82-jarige tannie Joyce se vrolike gedans by Janmy Engen Diensstasie word oral op sosiale media gedeel en sy is nog ietwat oorweldig oor die duisende mense wat daarna gekyk het.
Sy is op 27 Januarie na dié diensstasie toe vir ’n kompetisie wat hulle saam met Alurail gehou het.
Met die kompetisie moes jy kom wys jy het rugbyklere en al het sy nou nie die Blou Bul trui gehad nie, het sy gaan spog met haar Springboktrui.
Kosmos Stereo het die dag ook daar uitgesaai en toe hulle ‘Roer jou voete’ begin speel, het sy presies dit gedoen!
Sy het gedans dat die stof so staan!
Vir haar danspassies het sy ’n beker en brandstof gewen.
Haar voete wikkel al van kleintyd af as daar musiek gespeel is. Sy glo ook van jongs af om haar lyf soepel te hou en sy het op haar tyd aan verskeie pretlope asook ’n 16 Myler deelgeneem.
Sy was nog tot so drie, vier jaar gelede deel van die Monte Casino se klub vir bejaardes.
Aan die hand van ’n album gesels sy land en sand oor die dae toe hulle allerlei funksies gehad het waar hulle skreeusnaaks kon aantrek en lekker dans.
“Ek was selfs deel van hulle konsert waar ons soos die Grafsteensangers gesing het. Ons groep se naam was egter die ‘Slot…hmmm die Slutsangers gewees!” lag sy.
Verlede jaar het sy almal aan die praat gehad by Food Lovers in Middelburg toe sy met hul verjaardag vir haar ’n spesiale uitrusting gemaak en deur die winkel gestap het.
“Ek het klaar vir Valentysdag vir my ’n nommertjie gemaak wat ek gaan aantrek om weer by Food Lovers te kuier!” vertel sy guitig en draf gou kamer toe om dit te gaan aantrek.,
Kersfees 2022 het sy die Middelburg Observer se webtuiste en koerant gehaal met haar Kersdanse saam met die kinders in die buurt en al die lekkernye wat sy uitgedeel het. Sy het selfs gehelp om die kleinseun, Dirk Strydom, in Kersliggies te tooi.
In die tyd voor Kersfees 2023 het hulle weer die Kersliggies opgesit en die kinders vermaak met eetgoed, geskenkies en ’n gedans.
Tyd vir stilsit is daar nooit, want sy kry altyd ’n groot sak met leë koeldrankbotteltjies by die Middelburg Stasie, wat sy in kookwater was en dan vul met aanmaakkoeldrank.
“Ek sit die botteltjies in die vrieskas, wanneer kinders verby ons huis stap, dan kry hulle ’n lekker bottel gevriesde koeldrank.”
Sy gee ook graag iets te ete en sê ou “38” en “39” (soos sy die twee mans noem) kom staan gereeld by die hek vir hul koeldranke en eetgoed.
“My ouers, Dorothy en Alfred, was ook Bokke vir sports en pa het altyd die trekklavier en banjo gespeel op Krugersdorp.”
Tannie Joyce is baie meer soepel as mense jare jonger as sy.
Om haar bene gesond te hou vir al die dans en pret, gaan stap sy elke oggend vyf blokke saam met haar buurvrou, Diane Masombuka.
Sowat twee jaar gelede is tannie Joyce met keelkanker gediagnoseer, maar dit plaas nie ’n demper op haar positiewe geaardheid en al haar planne nie.
“Ek gaan nie vir die behandeling nie, want dit is te duur om elke keer Pretoria toe te ry. Dis net genade wat die Here vir my gee om elke dag aan te gaan.”
So tussen die gesels deur, kyk sy reguit vir die joernalis en sê: “Dit is lekker om méns te wees. Staan vandag op, sê dankie vir die Here dat jy hier is, wees positief en leef vir vandag, want more mag dalk glad nie kom nie.”
• Ouma Joyce het die gemeenskap genooi om op 24 Februarie by Janmy Vulstasie te wees in Samora Machelstraat.
Een van die personeellede het gesê hy sal sy Speedo aantrek en daardie dag dans as Bafana Bafana wen.
“En hulle hét gewen! Ek gaan ook daar wees om saam met hom te dans!” het sy laggend gesê.
• Sy het Vrydag op Kosmos Stereo gesels en sal Donderdagoggend op die lug wees saam met Radio Jacaranda.
@middelburgobserver Ouma Joyce se voute jeuk en toe dans die hele land #dance #eldersdancing #elders #publicdance
Lees ook: