News

Dief spog met cowboy hoed op kop by skool

Die R1 000 borg wat gister toegestaan is vir Gary Roos (34), wat vlugtig in die hof verskyn het op ’n klagte van kardiefstal, is nog nie betaal nie.

Daar is pas verneem dat sy borg nog nie betaal is nie en dat Roos steeds in aanhouding is.

Die enigste klagte waarvoor hy in die hof verskyn het, is kardiefstal. Hoërskool Kanonkop se inbraaksaak het nie deel daarvan uitgemaak nie.
Roos word ook positief verbind met die inbraak by Hoërskool Kanonkop.

Hy is ook herkenbaar op videomateriaal tydens ’n inbraak Sondag by Laerskool Dennesig.

Mnr. Werner du Preez (hoof, Laerskool Dennesig) het aangedui dat hulle vandag ’n inbraaksaak gaan open by die polisie.

“Ons het nie geweet dat die persoon ’n kar gesteel het van ’n personeellid van Middelburg Primary School nie en dat daar ingebreek is by Hoërskool Kanonkop nie.”
Hy het eers gister bewus geword van die ander sake.

Mnr. Du Preez sê die persoon wat by Dennesig ingebreek het, was nie bewus dat hulle kameras werk nie, al is dit beurtkrag.
Die kamerastelsel is van so ’n aard dat as daar beweging in ’n klas was, word dit vir hulle aangedui.

Die aand toe die dief terugkeer, het hy dieselfde kortbroek aangehad.

Daar is Maandag agtergekom dat skootrekenaars en ’n skermprojektor wat gebruik word saam met die Smart Televisiestelsel van die skool, weg is.

Hulle het dadelik die CCTV-videomateriaal van Sondagaand nagegaan en gesien dat ’n man met ’n kortbroek, tekkies, ’n oranje hoed en ’n rugsak, omstreeks 19:00 in ’n klas ingekom het. Die persoon is in by die klasstoor en het daarna die kamerastelsel se drade uitgeruk.

Terwyl hulle besig was om dié videomateriaal na te gaan, het hulle gesien dat die stelsel aandui dat daar die middag ook beweging in die klas was.
Groot was hul verbasing toe hulle die verdagte op videomateriaal sien en hom ook herken.

“Ons het hom aan sy tattoeërmerke uitgeken. Van ons ken hom. Hy het die middag dieselfde klere aangehad as die aand.”

Die videomateriaal wys hoe hy net na 13:00 by die klas instap, onbewus dat die solarstelsel alles aanhou en dat die kameras opneem.

Hy is dadelik by die klas se stoor in, waar hy sowat 10 minute vertoef het.
Met die uitkomslag het hy skielik ’n Cowboy-hoed op.

’n Cowboy-hoed is uit die stoor gesteel en op sy kop gesit, waarna die skootrekenaar (links van hom op foto) gesteel is.

“Die skool se produksieklere is in die stoor en hy het daar ’n hoed, wat hy verkeerd-om op sy kop gesit het, gevat.”

Mnr. Du Preez het genoem dat buiten die ses skootrekenaars en die skermprojektor, ook die koper van krane gesteel is.

“Die dief was darem so gaaf om eers die stopkrane toe te draai, voor die krane afgesteel is,” het hy vies-sarkasties gesê.

• Nadat die berigte oor Roos op Facebook verskyn het, het talle mense kommentaar gelewer oor Roos.

Sy vrou, Natasha (haar van is McKelvey op Facebook) het ook kommentaar gelewer.
“Ja, moenie oordeel asseblief. Hy het sy redes. Hy’t sy les geleer.”

• Ons het haar probeer bel vir kommentaar, maar sy het nie haar foon geantwoord nie.

• Daar is ’n persoonlike boodskap vir haar op Facebook gestuur en gevra vir kommentaar, maar sy het net gesê: “sorry, stel nie belang nie. Dankie vir dit, maar die public het klaar hulle comments gelê. Niks wat ons gaan sê gaan iets nou beter maak nie.”

• ’n Vrou het die afgelope week vir Hoërskool Kanonkop gekontak, foto’s van goedere vir hulle gestuur en gevra of dit nog van hulle gesteelde goed is.
Die personeel het van dit herken en vir haar gesê dat dit wel van hul gesteelde goed is.

Vanoggend het ’n persoon ongemerk by die skool se ontvangs ingegaan en dit daar neergesit.

Die skool se bemarkingspersoon, Christel Nel, sê dat hulle die skool se sleutels, ’n verlengkoord en die afsitterswapen teruggekry het.
Hulle vermis egter nog vier tweerigtingradio’s en hul laaiers.

Sy het gemeld dat die skool beslis nie die inbraaksaak gaan terugtrek nie.

Die kanon wat by Hoërskool Kanonkop gesteel is, het Bongani Metals, waar Roos dit te koop aangebied het, aan die skool terugbesorg. Hy het die kanon net so by Bongani Metals gelos toe hulle hom konfronteer oor waar hy dit gekry het.

@middelburgobserver

Vermeende kardief op video by skool betrap terwyl hy met cowboy hoed spog #school #schoolbreakin #crime #southafrica #middelburg

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

Lees ook:

Gary Roos vry op R1000 borg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button