Hoof se skoonseun ernstig beseer in ongeluk
Die man wat ’n erge besering aan sy keel opgedoen het in vanoggend se ongeluk is die skoonseun van ’n plaaslike skoolhoof.
Hendré Greybe, die hoof van Hoërskool Middelburg, mnr. Johan Stronkhorst, se skoonseun, is ernstig beseer is in die ongeluk vanoggend op die hoek van Mandelarylaan en Hektaarstraat.
Die ongeluk het omstreeks 08:00 plaasgevind.
Mnr. Greybe was in ’n Chery voertuig wat deur ’n minibus getref is.
Mnr. Stronkhorst het aangedui dat hulle by die Life Midmed Hospitaal se Ongevalle (Middok 24/7) is en hy nie op sy selfoon kan praat nie.
Hy het net per WhatsApp gesê dat “Hy is okey vir nou, gaan opereer word. Baie seergekry. Kan nie praat in ongevalle nie.”
• Me. Jantie van Zyl, wat werksaam is by ELB, wat geleë is op die hoek van Hektaar- en Mandelarylaan, sê hulle was besig in die kantore om te gesels oor die palissade heining van die besigheid wat geverf moet word.
“Ons het deur die venster vir die heining gekyk, toe ons die slag hoor en sien hoe die taxi oor die rand van die sypaadjie vlieg.”
Hulle het na buite gehardloop en opgemerk hoe ’n vrou van ’n ander besigheid af by die Chery voertuig, waar die ernstig beseerde mnr. Greybe in die kar was, staan.
“Ek het gesien die vrou het mediese handskoene aan en probeer die man help, waarop ek vir haar gevra het hoe ek kan help.”
Me. Van Zyl sê die vrou het gevra dat sy hulle noodhulptassie moet bring en sy het teruggehardloop en die noodhulptas gaan haal.
“Sy het sy nek, wat ’n diep wond gehad het, met die verbande verbind en vir my gevra om die verkeer te reguleer tot hulp opdaag.”
Me. Van Zyl het ook opgemerk dat ’n ander vrou die man se selfoon vat en sy familie in kennis stel van die ongeluk.
“Die man was by sy positiewe en kon met ons praat, al was dit onduidelik.”
Omdat ’n hele baan versper was weens mnr. Greybe se kar wat in die pad gestaan het, het sy begin om die verkeer te reguleer.
Nog ’n persoon het op die toneel gestop en het naby die toneel die verkeer gereguleer en me. Van Zyl kon hoër op teen die bult gaan staan om te wys daar is ’n ongeluk.
Sy het gemeld dat dié kruising ’n probleem is en dat daar al voorheen ongelukke was “omdat die mense nie kan sien nie”.
“As jy met jou voertuig staan in Hektaarstraat, kan jy nie die verkeer wat van bo af kom, mooi sien nie. Die meeste mense moet effens vorentoe ry om te kyk wat dan ongelukke veroorsaak.”
Die af-baan is breed genoeg sodat twee voertuie langs mekaar kan ry en as ’n voertuig in die binnebaan afkom, sal dit presies die neus van die voertuig wat uit Hektaarstraat uitdraai, tref.
“Die karre en trokke ry verskriklik vinnig daar af. Hulle moet net ’n kamera opsit en kyk hoe erg dit is.”
Sy glo ’n drierigting stopstraat sal die probleem aanspreek.
• Me. Van Zyl het ook genoem dat daar jare gelede ’n voertuig deur die besigheid se muur gery het en dat ’n man op die toneel gesterf het.
“Dit is baie gevaarlik daar met voertuie en trokke wat van bo af kom. Jy kan niks sien as jy probeer uitdraai by Hektaarstraat nie!”
• Die joernalis wat op die toneel was, het in Hektaarstraat gestop en het self daarna gesukkel om vanuit Hektaar in Mandelarylaan in te draai, omdat sig so sleg is vanaf dié straat.
Lees ook:
