News

Slaap met jou een oog oop – misdaad neem erg toe

Inwoners sal met een oog oop moet slaap, want diefstalle en inbrake is buite beheer.

’n Gesin in Njalastraat kan nie glo hulle het nie Vrydagaand wakker geword toe booswigte die motorhuis, wat net twee treë vanaf hul kamervenster is, oopgebreek het en ’n motorfiets en fietse gesteel het nie.

Hulle verkies om anoniem te bly.

“Hulle moes in die vroeë oggendure ingebreek het, want ons was middernag nog wakker.”

Die hond het op ’n stadium deur die nag regop gesit en gereageer op iets en een keer geblaf, “maar sy het nie soos altyd tekere gegaan nie en ons het verder geslaap.”

Saterdagoggend het hulle gesien dat die inbrekers naby aan hul kamer die motorhuis oopgebreek het.

“Ons slaap baie lig en is vir die geringste geluid wakker. Vrydagnag het ons egter glad nie wakker geword nie!”

Die boosdoeners het die buitehek se slot gebreek en die hek oopgeskuif.
Daarna het hulle die motorhuis oopgebreek en ’n motorfiets, vier fietse (twee volwasse en twee kinderfietse), asook duisende rande se gereedskap gesteel.

Wat die gesin dronkslaan, is dat hul buiteligte selfs met beurtkrag aan is, maar dat dit nie eers die inbrekers afgeskrik het nie.

“Die polisie het vir ons gesê dat, buiten by ons, daar by vyf ander huise in die dorp ingebreek is!”

• Dit is die soveelste inbraak in Kanonkop. Verlede week is daar ook ingebreek by die motorhuis van sr. Judy Toüa (bestuurder, Middelburg Hospicevereniging) in Kanariestraat.

Die boewe het egter ook die binnedeur vanaf die motorhuis na die huis oopgebreek en artikels in die kombuis gesteel.
Die kombuis is reg by haar dogter, Yolandi, se kamer.

Yolandi het die volgende oggend gesê dat sy en haar ma verslaap het daardie oggend en sy het siek gevoel. Sy het gewonder of die inbrekers nie dalk iets by die huis ingespuit het nie.

• Juanita Groenewald (ondervoorsitter, Noodroep Radiogroep Sektor 3) het gesê dat dit nou, meer as ooit, belangrik is dat mense in al die uitbreidings, veral in hul strate, moet begin saamwerk.

Sy het dit duidelik gemaak dat mense nie meer net kan staatmaak op noodgroepe en sekuriteitsfirmas om inbrake en ander misdaad in hul areas te bekamp nie.

“As elke straat se inwoners beurte maak, al is dit net tydens beurtkrag, om op en af in jul straat te ry. As jy nie brandstof het nie, trek net jou kar op ’n strategiese punt en sit jou hoofligte aan dat dit op die hele straat skyn. Dit sal al klaar die misdadigers afskrik.”

• Johan Oberholzer (Operasionele bestuurder, Mid Alarms) het bevestig dat misdaad erg is, met veral inbrake en diefstalle by huise en besighede wat skerp toegeneem het.

Lees ook:

Motorfiets gesteel na vlaag hondevergiftigings

Back to top button