Motorfiets gesteel na vlaag hondevergiftigings
Terwyl die dorp gebuk gaan onder ’n skielike vlaag hondevergiftigings het motorfietsdiewe ’n huis in Dennesig geteiken.
Susca Erasmus het om 03:50 Maandagoggend wakker geskrik van ’n groot slag.
Sy het aangeneem dat dit bure was wat iets laat val het, maar haar hondjie – wat sy juis binne hou omdat sy vrees dat iemand hom sal vergiftig – het begin blaf.
“Ek het by die eetkamer se venster uitgeloer en gesien my hek staan oop, wat vreemd was.”
Susca het met haar afstandbeheerder die hek probeer toemaak, maar dit wou nie werk nie.
Sy het haar seun wakker gemaak wat na buite is.
Susca sê sy vermoed dat die diewe haar hoor praat het, want hulle het gevlug.
“Ons het toe ontdek dat ons motorhuis se deur oopforseer is en dat die diewe met my seun se motorfiets weg is.”
Die motorfiets is ’n Yamaha MV 350, registrasie nommer: HVJ885L, “dit het maar 3000 kilometer op,” het Susca vertel.
• Die voorval volg op die vergiftiging van twee worshondjies Dinsdag in Clubville, asook drie honde in Totiusstraat oor die naweek.