News

Magtelose hartseer omdat pa se moordenaar eersdaags parool kry

Die man wat 19 jaar gelede ’n geliefde inwoner van Tonteldoos in sy winkel doodgeskiet het, kry eersdaags moontlik parool.

Die man wat Lappies Labuschagné (65) op 10 September 2003 koelbloedig doodgeskiet het vir R191.20, gaan na net meer as 19 jaar in die tronk, binnekort moontlik op parool vrygelaat word.

Mnr. Labuschagné se kinders sê die Korrektiewe Dienste se paroolraad het met hulle vergader en aangedui hulle gaan aanbeveel dat hy wel vrygelaat word.

Dit nadat regter Claassen in sy uitspraak in 2005 vir Herold Mabuso 66 jaar tronk toe gestuur het.

“Ons voel hulpeloos en verward,” het sy dogter, Ezanne Boardman, hierdie week gesê, “Ons sal net moet bid: ‘Here help!’ want ons kan self nie meer iets doen nie.”

’n Mens voel hul magteloosheid aan. Sy kinders Lappies, Ezanne Boardman en Magda-Marie Brits, het emosioneel geraak toe hulle oor die saak praat.

“Dit is ’n maalkolk van emosies en ons beleef weer alles asof dit gister gebeur het, maar ons word gedwing om verlief te neem daarmee, want ons kan nie die besluite verander nie.”

Lappies vertel hoe hul hulle met die vorige paroolaansoeke ook hul pa se moordenaars, Herold Mabuso, Thabo Makowane en Jan Magasha uitgevang het dat hulle steeds leuens vertel oor wat presies die dag van hul pa se moord gebeur het.

“Elke keer as ons ongemaklike vrae aan enige van die drie gevra het, dan kon hulle skielik nie onthou nie.”

Lappies meld dat hy ’n brief gestuur het aan die Minister van Korrektiewe Dienste oor die besluit.
Hulle het nou allerhande nuwe vaardighede in die tronk aangeleer, die regte blokkies is afgemerk, maar is hulle regtig gerehabiliteer? Boere en bejaardes gaan nie veilig wees as Mabuso op parool vrygelaat word nie.
Hy gaan kwansuis vir sy broer werk. Dit nadat hy destyds na sy arrestasie gesê het hy het geen familie nie.”

Ezanne is ’n forensiese ondersoeker en was jare in die polisie.

Sy het vir die korrektiewe paroolraad gesê dat sy uit die aard van haar werk in die meeste gevalle gevind het dat hierdie misdadigers wanneer hulle uitgaan op parool, net weer dieselfde misdade pleeg.

“Dit is baie teleurstellend wat hier gebeur. Ek voel weer soos daardie aand. Die hartseer, die kwaad. Jy voel, soos die Engelsman sal sê, numb. Ons het gevoel dat as ons net één boer se lewe kan spaar deur hom binne te hou, dan het ons in ons doel geslaag. Maar die regstelsel het ons gefaal.”

Lappies sê ook hy voel dit is nie ’n geregverdige besluit nie, want nie een van die drie beskuldigdes het ooit enige berou getoon nie.

Hy en Ezanne voel dit is ’n politieke besluit en dat daar nie regtig na die feite wat hulle voorgelê het, gekyk is nie.

“Hulle het gesê ons moet op die punt kom waar ons moet aangaan en dit agter ons sit. Maar hoe gaan jy aan as jou pa, jou oupa vermoor is. As nog iemand deur hulle vermoor word, dan het ons mos ons land se mense gefaal. Dan is hul bloed mos op ons hande?”

Magda-Marie stem saam met Lappies en Ezanne dat mense nie meer veilig gaan wees as die drie parool kry nie. “Dit is al oor en oor bewys dat as hierdie mense uitgaan op parool, dat hulle dit weer doen. Dit is ’n sneeubal effek!”

Magda-Marie sê “dit is asof ons, ons pa gefaal het.”

Ezanne het vertel hoe geliefd haar pa in die Tonteldoos gemeenskap was en dat selfs die stamhoof in die omgewing briewe ingehandig het om te sê watter ongelooflike man haar pa was.

“Hy was ’n pilaar en raadgewer in die gemeenskap. Ons kinders en kleinkinders se lewens is verwoes. My ma, Bettie, het haar doodgetreur na sy moord.”

Ezanne onthou tydens die vorige paroolverhoor hoe Magashwa verby haar gekyk het. “Hy het nie vir my gekyk nie, want daar was ’n engel saam met my.”

Hulle is dit eens dat hulle almal glo aan vergewing.
“Vergewing kom egter as daar berou is en hulle het tot nou toe, géén berou getoon nie. Dis tog waaroor gevangenisstraf gaan om die daad te straf! Ons is ontneem van die voorreg om die pa en oupa wat ons gehad het, by ons verder in ons lewens te kon hê.”

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2024/02/06/pa-tereggestel-nou-moet-hulle-veg-om-moordenaar-agter-tralies-te-hou/

  • Daar is navraag gedoen by die Korrektiewe Dienste oor die saak, maar teen publikasietyd het hulle nog nie ’n antwoord op ons navraag verskaf nie. Sodra hulle daarop reageer, sal die antwoord gepubliseer word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button