News

Pa “tereggestel” – nou moet hulle veg om moordenaar agter tralies te hou

“Parool is vir my ’n nagmerrie wat waar word.”

So sê Magda Brits wat more saam met haar broer, Lappies en suster, Ezanne, by die Witbank Korrektiewe Dienste moet wees om te veg dat Herold Mabuso vrygelaat word op parool.

Mabuso is die man wat hul pa, Lappies Labuschagné (65) op 10 September 2003 in sy Disselboom Winkel op Tonteldoos doodgeskiet het.
Hulle noem dit “tereggestel het”, want hul pa is van agter af deur die kop geskiet.

“Een skoot deur die kop. ’n Skoot wat duidelik moes doodmaak,” skryf Magda in ’n stuk wat sy hierdie week vir die Middelburg Observer gestuur het.

Die drie mans wat betrokke was by die moord, Mabuso, Thabo Makowane en Jan Magashwa, is in Augustus 2005 deur regter Claassen lank tronk toe gestuur.
Makowane en Magashwa is elk 58 jaar gevangenisstraf opgelê en Mabuso het 66 jaar gekry.

Mnr. Lappies Labuschagné is op 10 September 2003 in sy winkel doodgeskiet.

Regter Claassen het in sy uitspraak destyds gesê dat “ek nie genoeg woorde het om my weersin te beskryf nie. Die beskuldigdes het ’n man van 65 jaar vermoor, wat oud genoeg was om hul oupa te wees.”

Mnr. Labuschagné se aanvallers het hom vermoor vir R191.20 en ’n bibi-pistool wat in die winkel was.

Magda het hierdie week gesê dat die Minister van Korrektiewe Dienste opdrag gegee het dat Mabuso se parool op heroorweging moet gaan.
Die ander twee se profiele het nog nie teruggekom van die minister se kantoor af nie.

“Bid vir ons dat die raad nie die heroorweging van parool gaan toestaan nie, asseblief. Ons het dit nodig….”

Sy vertel hoe hulle as familie wroeg oor die woord: ‘parool’,

“Baie mense sal sê, laat die persoon vry, hy het sy straf uitgedien.”

Hulle voel dat die 16 jaar wat uitgedien is van sy lewenslange vonnis, plus die bykomende agt en drie jaar vir roof met verswarende omstandighede nog nie genoeg is nie.

Die berig wat in Augustus 2005 in die Middelburg Observer verskyn het nadat mnr. Lappies Labuschagné se moordenaars lewenslank tronk toe gestuur is.

“Na al ons baklei, en trane, angs en sommer net weer kwaad, moet ons weer een van hulle in die gesig staar en al die ou, ongeneesde rowe, oopkrap.”
Magda het gesê hulle sal baklei met alles wat hulle het om dit teen te staan.

“’n Moordenaar kan en mag nie weer die kans kry nie!”

Sy het gedetaileerd weer die gebeure van haar pa onthou.

“Pappa op die grond met bloed wat uit sy kop vloei. Mamma se stem vol hartseer en angs en woorde wat jou ruk tot in jou siel. ‘Skattebol, moet my nie los nie…’ Mamma is stukkend, want haar maatjie is weg.”

Magda het hartseer gesê dat hulle nooit weer hul pa sal hoor lag, hom hoor more sê of ’n drukkie voel nie.
Hul ma, Bettie, is agt jaar later dood.

“Nou vra ek. Hoe keer jy die baklei? Hoe vergewe jy as vergifnis nie opreg gevra is nie en dit net leë woorde uit ’n moordenaar se mond is?”

Sy het pleitend gesê dat “ons moet saamstaan teen die uitspraak, want soms, net soms, is ons eie stem nie genoeg nie. Vir hoe lank moet ons baklei en hoekom? Dis mos ’n lewe, ’n man, ’n pappa,’n oupa wat vermoor is.

“Daarom ja, daarom sal ons baklei, sodat hierdie moordenaars nie weer die kans moet kry nie!”

• In 2019 het die familie ook hul paroolaansoek teengestaan en het die paroolraad in hul guns beslis.

• Oom Lappies (Pieter) se twee kleinseuns, Pieter (sy naamgenoot) en Johann Brits het in 2020 openlik gehuil toe hulle hul vermoorde oupa se kruis by die Witkruismonument in ontvangs geneem het.

Hulle het namens die familie ’n nuwe kruis vir hul oupa by die Witkruismonument aangebring.

Die Witkruismonument is daargestel om kruise te plant in herinnering aan slagoffers van plaasmoorde.

Back to top button