Babakluis by kerk oopgebreek
Nie eers die Madison Babakluis voor die Presbiteriaanse Kerk word deur misdadigers ontsien nie.
Gistermiddag het eerwaarde Kokkie Smit een van die boosdoeners op heter daad betrap, maar hy het weggehardloop en sy trollie en inbreektoerusting net daar gelos.
Eerw. Smit sê die booswig wou die babakluis se deksel afbreek.
• ’n Stuk van ’n kragkabel is Vrydagaand tydens beurtkrag by die kluis afgesny.
“Hy het oor die palissadeheining geklim om die kabel af te sny.”
Eerw. Smit het ’n alarm gekry by die babakluis en dadelik gaan ondersoek instel.
Omdat alles in orde gelyk het, is hy weer terug huis toe.
Hy was pas terug, toe die alarmbesigheid hom kontak en sê die alarm het afgegaan met die kabel wat teen die babakluis afgesny is.
“Dit is net ’n twee meter stuk kabel, die res is ondergrond. Hy kan niks daarmee maak nie. Maar as hy op verskillende plekke sulke stukke afsny, sal hy seker ’n paar rand kry.”
Eerw. Smit sê die alarm het gelukkig gehou tot Saterdagoggend toe hulle die kabel kon vervang.
“Ons is dankbaar dat dit herstel kon word, want dink wat sou gebeur het as ons die babakluis vir ’n hele naweek sou moes toemaak omdat daar kragprobleme is!”
• Die buitelig van die babakluis is twee weke gelede ook gesteel.
• Daar is verlede week ook by die kerk ingebreek en ’n staan-orrel gesteel.
Eerw. Kokkie Smit sê dit is beslis nie dieselfde persoon wat by die kerk ingebreek het, wat hom nou toespits op die babakluis nie.
Lees ook: