News

Babalykie dalk na Madison Tuin van Herinnering

Die lykie van ’n pasgebore baba wat Vrydagoggend langs die Klein Olifantsrivier deur ’n stapper gekry is, se as gaan dalk in die Madison Tuin van Herinnering ’n rusplekkie kry.

Eerwaarde Kokkie Smit (Presbiteriaanse Kerk) het bevestig hulle gaan poog om die baba te laat veras en die kissie in die herinneringstuin te sit.

• Mnr. Bennie Heyns het Vrydag gaan stap en op die lykie, wat gesig na onder in die lang gras gelê het, afgekom. Hy het dadelik die polisie en die ander nooddienste gekontak.

Die lykie was in ’n gevorderde stadium van ontbinding.

Daar is oral op die toneel rondgekyk, maar daar was geen teken van bloed tussen die lang gras nie en dit blyk dat die baba op ’n ander plek gebore is.
Dit het egter die vorige dag gereën en spore van bloed kon weggewas gewees het.

Mnr. Heyns het genoem dat hy twee dae vantevore ook langs die rivier gestap het, maar dat die lykie nie daar was nie.

Weens die erge ontbinding is dit egter duidelik dat die baba nie net ’n dag of twee daar kon wees nie en bestaan die vermoede dat diere die oorskot tot daar gesleep het.

• Hierdie week is daar verneem dat dit ’n pasgebore baba was, met die naelstring nog aan die baba vas.

Slegs die boonste gedeelte van die torso, waaronder die koppie en arms tot by die heupe, was op die toneel.
Die baba se bene en onderste gedeelte van die heupe is waarskynlik weggevreet deur diere en daar kan nie bepaal word of dit ’n dogtertjie of seuntjie is nie.

Daar was geen ander sigbare beserings aan die boonste gedeelte van die torso nie, wat op dié stadium nie kan bewys of die baba doodgebore is of doodgemaak is nie.

Al wat duidelik is, is dat dit ’n pasgebore baba was.

• Die Madison Tuin van herinnering is in 2018 begin nadat die oorskot van ’n babadogtertjie in ’n asblik gekry is.

Die baba is veras en die Presbiteriaanse Kerk het toestemming gegee dat ’n Madison Tuin van Herinnering vir haar gevestig word.
Kort daarna is die Madison Babakluis reg by die tuin begin waar babas anoniem in die kluis geplaas kan word.

Me. Frances Davies, wat ’n voorvegter was dat so ’n babakluis in Middelburg begin word, sê ’n stil-alarm gaan af sodra ’n baba in die kluis gesit word.

Titon Sekuriteit reageer dadelik, waarna ’n ambulans uitkom, kyk of die baba gesond is en die kind dan hospitaal neem.
Vandaar word die nodige maatskaplike dienste gekontak, wat seker maak hy is versorg.

Sedert die ontstaan van die babakluis is daar reeds twee babas gehelp.

“Daar is hulp. As jy nie na jou kindjie kan kyk oor sekere redes nie, of te bang is dat iemand van die baba moet weet, gaan sit hom in die kluis. Moet hom asseblief nie weggooi of doodmaak nie,” het me. Davies gepleit.

• As enige persoon weet van ’n vrou wat hoogswanger was en sy het nie tuis gekom met ’n baba nie, word gevra dat dit aangemeld word by die polisie.

Lees ook:

Babalykie langs rivier gekry

Back to top button