Vermiste vrou in eMalahleni gesien
Die kinders van Martie Smit (53), wat al vir maande na hul ma soek, sê hulle is gekontak deur ’n persoon in eMalahleni dat hulle haar gesien het.

Me. Smit se dogter, Sarene Goosen, het vanoggend gesê dat hulle die afgelope paar maande al selfs in Groblersdal na haar gaan soek het, maar dat dit elke keer op ’n doodloopstraat uitgeloop het.
Hulle het die afgelope tyd ’n Vermiste Persoon-plakkaat opgesit met die hoop om haar so op te spoor.
Die familie is gister gekontak deur ’n vrou wat haar ma op eMalahleni op straat gesien het en gereeld vir haar ’n werkie en kos gee.
“Ons is besig met reëlings om haar in die hande te probeer kry.”
Sy onthou hoe goed dit met haar ma gegaan het toe sy nog ’n onderwyseres was by ’n kleuterskool in Limpopo.
Me. Smit het by haar broer in ’n woonstel gebly en het gereeld met haar drie kinders gesels.
Nadat sy egter ’n nuwe kêrel gekry het, het alles verander.
Die oproepe het al hoe minder geword en as hulle met hul ma wou praat, is daar altyd vir hulle gesê sy slaap of sy is nie by die huis nie.
Later het hul ma nie meer ’n selfoon gehad nie.

Sarene sê dat haar ma haar werk en haar woonstel opgegee en saam met haar nuwe vriend by dié se ouers gaan bly het.
Daarna kon hulle haar nooit meer in die hande kry nie.
In Desember 2022 het me. Smit en haar vriend by Sarene se huis opgedaag.
Sarene het vir haar ma gesê sy hou nie van haar vriend nie, maar dat sy bereid is om hom te leer ken.
Dit was vir haar baie hartseer, want haar ma het vir die eerste keer toe gesien dat Sarene swanger is.
Haar ma en die kêrel het nie vervoer gehad nie.
“My ma het nog gesê hulle het duim gegooi en hoe erg dit vir haar was om by vulstasies te slaap.”
Me. Smit en haar vriend was net ’n dag of wat by haar dogter in Randfontein, toe is hulle weer daar weg.
Verlede jaar het hulle nog af en toe van haar gehoor en in Oktober 2023 was die laaste kontak ooit.
Riemtelegramme het hulle gelei na Groblersdal, maar hulle was nie daar nie.
Die afgelope tyd het hulle boodskappe gekry dat haar ma alleen by ’n verkeerslig in eMalahleni gesien is.
Sy het gevra dat as daar enigiemand haar ma sien of nog meer inligting oor haar het, om haar dadelik te kontak.
Sarene kan gekontak word by 079 188 7468.