News

Bedrewe Protea boogskut sterf na operasie

Die bekende plaaslike boogskut, Lourens Nel, wat vier keer sy Proteakleure verwerf het, is gisteraand oorlede na hy ’n operasie ondergaan en daar komplikasies was.

Familie het gisteraand net na 20:00 ’n boodskap op Facebook geplaas waarin hulle gesê het “dat hy pas oorlede is”.

“Hy gaan vreeslik gemis word. Hy het diep spore getrap in almal se harte. Bid asseblief vir ons familie en sy gesin vir krag. Loutjie ons is lief vir jou,” het die boodskap gelui.

Tientalle boodskappe van meegevoel het daarna gevolg.

Een van sy vriende, Koos Kleinsmith, het gesê: “dit is met groot skok en baie hartseer om te hoor een van die dorp se grootste seuns is oorlede. So jonk, so ’n groot yster en bate van Middelburg, ’n reuse Moth en groot vriend.”

Hy het ook sy simpatie met die familie betuig.

“Hy was nie net ’n kampioen boogskutter nie, hy was ’n gentleman en ek gaan hom geweldig mis.”

• In 2022 het die Middelburg Observer ’n berig gedoen oor Lourens toe hy vir die vierde keer sy Proteakleure verwerf het en die kaptein was van die span wat aan die Veld Boogskiet kampioenskappe in Estland deelgeneem het.

Die Suid-Afrikaanse span het vyf wêreldrekords verbeter, asook sewe silwer en een brons medalje verower.

Lourens was ook deel van die span wat in die boogjagklas (BH – Bow Hunter) goud verwerf het en in die individuele veterane BU-afdeling het hy ’n silwer medalje gewen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button