News

Geen genade – siek bejaarde verskyn na hofdrama

Die bejaarde Dries Olivier het vandag vlugtig in die hof verskyn op aanklagte van aanhitsing tot openbare geweld.

Die bejaarde voormalige Groblersdalse burgemeester, Dries Olivier, het homself vroeër vandag aan die polisie gaan oorgee en sal op 4 April by die beskuldigdebank inskuif saam met die Bittereinders se Francois van der Merwe en Devon Hofmeyr, saam met aktiviste Tewie Wessels en Willem Petzer.

Al vyf word aangekla van aanhitsing tot openbare geweld na ’n konfrontasie met die Groblersdal polisie buite die dorp se landdroshof waar pa en seun Piet Groenewald en Stephan Greeff se borgverrigtinge vir die beweerde aanranding van ’n werknemer op Groenewald se plaas buite Groblersdal, voortgesit is.

Groenewald en Greeff is beide nog in aanhouding nadat borg geweier is, en het hulle nou na die Limpopo Hooggeregshof gewend vir appèl teen dié beslissing.

Mnr. Olivier het saam met Van der Merwe, Hofmeyr, Wessels en Petzer betoog teen die voortgesette aanhouding van Groenewald en Greeff.

Toestemming vir ’n optog en vreedsame protes is deur die polisie aan Olivier toegestaan, voordat ’n onderonsie buite die hof ontstaan het.
Protesgangers wou verby die hof beweeg, waarvoor toestemming aanvanklik toegestaan is, maar toestemming is op die nippertjie geweier.

Van der Merwe is gearresteer nadat hy deur ’n polisiekordon wou beweeg.
Hy is deur minstens sewe polisiemanne en twee verkeersmanne grond toe gedwing, waar hy na bewering geskop en geslaan is.

Hy het die dag van sy arrestasie mediese behandeling ontvang weens beweerde beserings wat deur die wetstoepassers tydens sy arrestasie toegedien is.

Hofmeyr, Wessels en Petzer het hulself dae na Van der Merwe se arrestasie gaan oorgee, terwyl Olivier arrestasie ontduik het weens mediese ongesteldheid.
’n Dokterbrief is ingedien, wat Olivier se arrestasie tot nou toe in die wiele gery het.

Olivier het vlugtig in die hof verskyn waar hy op R5000 borg vrygelaat is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button