VF+ wil spesialis eenhede terugbring
Die VF+ glo dat die terugbring van die polisie se spesialis-eenhede, soos die moord en roof-afdeling, een van die oplossings sal wees vir die misdaad wat tans buite beheer is.

Dr. Pieter Groenewald, die leier van die VF+, het tydens ’n sake-ontbyt by Hermansdal, gepraat oor die ernstige uitdagings in Suid-Afrika en hoe belangrik dit is dat elke stemgeregtigde moet gaan stem.
“In 2019 het net 27% van ons land se stemgeregtigdes gaan stem!”
Dr. Groenewald dien op die polisiekomitee en hy het gesê dat die “polisie besig om die stryd te verloor. Hul omstandighede is moeilik.”
Hy sê dat die ekonomie net kan groei as daar veiligheid in die land is.
“Daar moet effektief opgetree word teen misdaad. Daar is ’n strafloosheid in ons land!”
Hy het genoem dat as gekyk word na die statistieke op die oomblik, is daar net 18% van sake wat in howe beland.
“Dit beteken misdadigers het ’n meer as 80% kans om weg te kom met hul dade! Hulle is nie meer bang vir die polisie nie.”
Dr. Groenewald het genoem dat fluitjieblasers tans doodgemaak word en dat hulle beskerm moet word.
“Ons moet misdaad aanspreek en spesialis-eenhede moet weer begin word om misdadigers vas te trek. Hulle is vervolgingsgerigte ondersoekers.”
Dit is egter nie net die polisie na wie daar gekyk sal moet word nie, maar ook na die hele strafregstesel vanaf die polisie, tot by justisie en die korrektiewe dienste.

Hy is van mening dat mense wat sekuriteitsfirmas betaal om hul eiendom te beskerm, eintlik op hul belastinggeld afslag moet kry.
“Op die oomblik is daar omtrent drie sekuriteitspersone vir elke polisielid. Dit is die plig van die polisie om mense en hul eiendom te beskerm, maar ons moet nou ons eie eiendom beskerm.”
Hy het ook uitgebrei oor korrupsie en voel dat daar behoorlike aankla-werk gedoen moet word en dat die skuldiges tronk toe moet gaan.
Dr. Groenewald het oor talle uitdagings in ons land uitgebrei, soos om ’n stadsraadslid in Suid-Afrika te wees.
“Die verval van infrastrukstuur, die probleme met water, elektrisiteit, noem dit op, is enorm. As jy nie die politieke mag het nie, kan jy maar net praat en jou bes doen. Dit is nie maklik om ’n probleem te probeer oplos nie.”
Hy het stadsraadslede wat wel probeer en tog daarin slaag om iets gedoen te kry, geloof en gesê dat hulle ’n uitmuntende diens lewer.
Dr. Groenewald het genoem dat baie mense hulle al oorgegee het aan die verval in Suid-Afrika.
Hy gebruik die metafoor dat “ons almal huisbewoners is van een huis met die naam Suid-Afrika, Dit is ’n wonderlike land, maar daar is inwoners wat die huis se vensters stukkend gooi, waterpype breek en goed steel.”
Hy het ook gepraat oor hul prioriteite van werkskepping, misdaadbestryding, en om toe te sien dat gekwalifiseerde persone die werk kry wat hulle toekom.
Dr. Groenewald sê die grootste probleem in ons land is nie die ANC nie, maar werkloosheid.
“Die grootste vyand is werkloosheid, nie ’n party nie. Werkloosheid het te doen met mense se trots. Die ideaal is dat elkeen in Suid-Afrika weer trots kan wees op wie en wat ons is. Ons gaan nie toelaat dat die huis afgebrand word nie.”
Hy het afgesluit deur te sê dat die VF+ ’n plan om die land te herstel deur dit steen vir steen weer te begin bou.
“Ons eerste grondbeginsel is: ons glo in God Drie-enig, ons gaan nie dié beginsel verander nie. Ons is Christene en dit is wat ons onderskei. Ons het hoop. Ons plaas nie ons vertroue in mense nie. Ons plaas ons vertroue in ons Hemelse Vader en ons sal vol ywer en energie werk om te bou aan die toekoms.”