Uitsmyter verskeie kere met mes gesteek
’n Verdagte is gearresteer nadat ’n uitsmyter tydens ’n kroeggeveg met ’n mes gesteek was.
’n Uitsmyter het ernstige steek- en snywonde opgedoen tydens ’n bakleiery Saterdagmiddag by Club Galactica, wat geleë is in die Nasaret Taxistaanplek in Cowen Ntulistraat.
Volgens Johan Oberholzer (Operasionele bestuurder, Mid Alarms) het een van die sekuriteitsbeamptes by Club Galactica die ernstige steek en snywonde opgedoen toe hy tussenbeide wou tree tydens ’n geveg by die kuierplek.
Die aanvaller het hom gesny oor sy gesig, nek, voorarm en hand en hom met die mes gesteek in die skouer en been.
Daarna het die booswig weggehardloop in Cowen Ntulistraat op, met een van Club Galactica se werkers agterna.
By Krugerpark Vulstasie het die werker ’n klip na die messteker gegooi, wat ’n ruit by die vulstasie getref het.
Mid Alarms het dadelik ’n paniek-alarm gekry en het twee reaksielede, Jantjies Subisi en Kevin Trefry, na Krugerpark Vulstasie gejaag.
Daar is ’n beskrywing gegee van die klipgooier en die Mid Alarms reaksielede het hom by die Oakssentrum opgespoor.
Hulle het hom teruggevat na die Krugerpark Vulstasie, waar hy vir hulle verduidelik het wat by Club Galactica gebeur het.
Hy en die petroljoggies het daarna ’n beskrywing gegee van die messteker.
Die reaksielede het daarna met die hulp van senior reaksielid, Richard Sadie, die verdagte in Samora Machelstraat (voor Afgri) vasgetrek.
Hy was nog vol bloed van die slagoffer en het die mes ook nog in sy besit gehad. Hulle het die man aangehou tot die polisie opgedaag en hom gearresteer het.
• Die verdagte behoort vandag in die hof te verskyn. Die klagte is tans aanranding met die opset om ernstig te beseer, maar die moontlikheid dat dit kan verander na poging tot moord is sterk. Dit kan egter eers verander word sodra ’n J88-doktersverslag ingehandig is met die aard van die slagoffer se beserings.
