Werkers ry oor klippe op N4, word beroof
’n Groep werkers is gisteraand omstreeks 22:30 op die N4 beroof nadat bande op hul voertuig deur klippe op die hoofweg beskadig is.
Die mans het oor die klippe in die Bosmanskraal omgewing gery toe hul bande beskadig is.
Die groep het afgetrek om ’n band te ruil, toe vyf gewapende mans skielik uit die bosse op hulle toegesak het.
Die slagoffers sê dat minstens vyf gewapende rowers betrokke was by die hinderlaag.
Die groep is met wapens in hul gesigte van selfone en al die kontant wat hulle op hul gehad het beroof.
Die rowers het toe te voet gevlug.
Trac het nou al verskeie maal gewaarsku dat motoriste liefs in daglig moet reis.
Indien nie, moet daar konvooi gery word.
Die konsessiehouer sê dat indien jou bande in so voorval beskadig word, spoed verminder moet word en so ver moontlik van die toneel af gery word.
In April 2021 was die bendes rowers betrokke by die hoofweg voorvalle direk verantwoordelik vir die dood van me. Faith Shabangu, wat deur voertuie op die N4 getref is toe sy uit hul kloue wou vlug.
Me. Shabangu was op pad na haar werkplek by Columbus Stainless toe sy oor ysterpenne in die pad is.
Ondanks haar noodlottige beserings, nadat sy deur ’n Nissan bakkie getref is, is haar handsak, selfoon en motorsleutels deur die kriminele op die toneel gesteel.
Haar baba was sewe maande oud tydens haar dood.
In Februarie 2022 is ’n groep onderwyers van Ermelo op die N12 beroof nadat hulle bussie ook ’n pap wiel opgedoen het weens obstruksies in die pad.
’n Skoot is op ’n manlike onderwyser wat besig was om die band te ruil afgevuur, maar die wapen het gelukkig gestoor.
