News

Legende in boerderygeledere verloor stryd teen kanker

’n Legende in boerderygeledere, Riaan Roodman, het op 2 April vanjaar ’n meer as tweejaarlange stryd teen breinkanker gewonne gegee.

Mnr. Roodman was tot Augustus 2022 hoof operasionele bestuurder by SIS Lewendehawe.

Hy is in Desember 2021 met breinkanker gediagnoseer en het ook twee breinoperasies ondergaan, met 16 chemoterapie sessies en ses weke se bestraling wat hy ook moes deurmaak.

Sy vrou Carolina sê egter dat die Here hom deur sy stryd met die kanker, stewig in sy Goddelike hand toegeklem het.

“Selfs na die breinoperasies het hy nie liggaamsfunksies verloor nie, en ons geweldig dankbaar vir die tyd wat ons met hom kon hê,” het sy hartseer gesê.

Hulle het in Januarie vanjaar Midstream toe verhuis om nader aan hul vier kinders in Gauteng te wees, nadat die dokters in Desember laasjaar gesê het die gewas was buite beheer, en dat mnr. Roodman net drie maande met sy gesin oor sal hê.

“Ons berus ons daarby dat hy by die Vader is,” sê Carolina.

Mnr. Roodman was diep gelowig en Carolina sê hulle is dankbaar dat sy laaste wens, om vreedsaam by die huis met sy gesin by hom, heen te gaan.

’n Vloedgolf van medelye is na mnr. Roodman se afsterwe ontvang, en daar is op 5 April van hom afskeid geneem by die AGS Lighuis gemeente in Middelburg.

Die volgende hulde is ook aan mnr. Roodman in sy begrafnisbrief gebring deur sy vrou:

Carolina:

“My liefste man, ek sal nooit die regte woorde agter mekaar kan sit om te sê hoe baie jy vir my beteken nie, maar ek sal die res van my lewe spandeer om hulle te soek. Hoe beslkryf ek die groot gapende stukkende plek in my hart en wat jy vir my beteken het. Ek gaan jou ongelooflik baie mis. Jy is nou in die hemel en my hart is daar by jou. Ek weet jy wil nie hê ek moet huil nie, maar jy was ’n groot deel van wie ek is en nou gaan ek ’n groot deel van my vir altyd mis.
Jy is my alles.”

Back to top button