News

Nel praat uit tronk, beweer hy’s gedwing om transseksueel te wurg

Die oud-Puma rugbyspeler staan tereg op die moord van sy Taiwanese minnaar wat hy na bewering in 2020 gewurg het.

Dawie Nel, die voormalige Middelburgse oud-Puma rugbyspeler, wat vir die moord van sy transseksuele Taiwanese minnaar in die Pretoriase Hooggeregshof teregstaan, en sedert die moord by sy Meyerspark huis in Desember 2020 in aanhouding is, het verlede week die eerste keer telefonies met die Middelburg Observer gesels.

Hy beweer dat hy deur ’n werknemer van sy swembadbesigheid, Quintin de Witt, met ’n gaspistool gedwing is om die voormalige gesellin en ontkleedanser, wat hy as sy vrou gesien het, te verwurg.

Die onthulling kom nadat De Witt self onlangs met die koerant gesels het, oor wat hy die aand van die moord gesien het.
Volgens De Witt wil hy bloot hê die waarheid oor die aand se gebeure moet uit, omdat hy geregtigheid vir Anne soek.

In ’n skokonthulling, het De Witt gesê dat hy die aand van die moord, twee steelvideos van Nel geneem het, wat wys hoe Nel rooi sokkies in die oorledene se mond druk, en ’n tou om haar nek verskeie maal styftrek.

Die videos, van 30 en 60 sekondes wat die Middelburg Observer gesien het, wys ook hoe Nel op die oorledene se nek trap.

Dit het egter intussen na vore gekom dat De Witt self al vantevore vir poging tot moord skuldig bevind is, en ook op ’n aanrandingsklag.

Hy is skuldig bevind aan ’n grusame verkragting waartydens hy die slagoffer, wat hy uit haar werkplek ontvoer het, se polse met ’n knipmes afgesny het in ’n poging om haar te vermoor na die verkagting.

Die voorval het in Barberton plaasgevind.

Getuies het getuig dat hy ’n sekuriteitsmaatskappy geskakel het met die nuus dat ’n kuierplek, Die Kaia, afbrand.
Die slagoffer was toe alleen gelaat in die maatskappy se kontrolekamer, waar sy deur De Witt ontvoer is.

Nel beweer nou dat De Witt die aand van die moord met ’n gaspistool by sy huis opgedaag het en hom beveel het om Anne te verwurg.
Omdat hy al vantevore beroof is met messe en ’n skroewedraaier, was hy bang vir die pistool.

Nel sê weens ’n vroeëre motorfietsongeluk, dat sy regterarm onbruikbaar is, en hy dus nie die ingewikkelde knope op die tou, wat gebruik is om Anne dood te maak, kon maak nie, hoewel die videos wys hoe hy verskeie maal die tou om haar nek styftrek.

Nel beweer verder dat De Witt hom twee sterk verdowingsmiddels gegee het, voordat hy sy bewussyn langs Anne se liggaam verloor het, waar die polisie hom gevind het en hom moes wakker klap.

Nel en Anne het hulself vir twee dae voor die moord vergryp aan drank en tik.

Anne het glo die aand van die moord, volgens Nel, berserk gegaan, en Nel beweer sy’t hom eerste aangeval met ’n drukker (printer), voor die moord.

Hy sal weer Junie in die hof verskyn.

 
Back to top button