Die grootste sportgebeurtenis op Middelburg, naas die Loskop Marathon, vind môre, 7 November, plaas wanneer die gewilde Alzu Tour de Farm-bergfietswedren.
Dit is die 15de jaar wat die wedren aangebied word.
Alle fondse wat tydens die geleentheid ingesamel word, gaan aan die Middelburg Care Village, Middelburg Primary en Hoërskool Middelburg.
Fondse vir die kinderhuis ingesamel
Die Care Riders, wat jaarliks aan die Munga-ultrafietswedren deelneem om fondse vir die kinderhuis in te samel, ondersteun ook die Tour de Farm in groot getalle. Volgens André Brandmüller sal vanjaar die grootste groep Care Riders nog aan die wedren deelneem.
Teen Donderdagmiddag het 1 358 fietsryers van regoor Suid-Afrika reeds ingeskryf. Die goeie nuus is dat laat inskrywings vandag nog by GoCycle en vroeg môreoggend by die wegspringpunt gedoen kan word.
Die wegspring en eindpunt is by die Alzu Petroport, langs die N4, sowat 40 km buite Middelburg.
Feesarea beskikbaar
Besoekers kan ook uitsien na ’n feesarea met uitstallings, kosstalletjies en vermaak deur kunstenaars soos Jan van die Stad, Prop, Brendan Peyper en Bobby van Jaarsveld.
Die wedren, wat as die ‘vinnigste bergfietswedren in Suid-Afrika’ bekendstaan, bied verskillende afstande vir die hele gesin, asook strawwe kompetisie vir elite-ryers:
- 120 km-ultrabergfietsroete: Vir ryers wat ’n ernstige uithoutoets soek. Gruisfietse word ook toegelaat.
- 70 km: Die hoofbergfietsroete.
- 35 km: ’n Korter uitdaging vir ryers.
- 15 km-pretren: Ideaal vir beginners en jonger ryers.
Die unieke roete kronkel deur Alzu se eie en naburige plase, waar fietsryers reg langs renoster- en buffelkampe ry en ook wildsoorte soos swartwitpense, gemsbokke en volstruise teëkom.
