KYK: Middelburg SAVF-ouetehuis maak reg vir jaarlikse basaar
Middelburg se SAVF-ouetehuis se jaarlikse basaar bied kos, handewerk, uitstallers en geselligheid.

Die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) se ouetehuis op Middelburg hou vandag, 6 November, weer sy jaarlikse basaar.
Die inwoners is reeds maande lank besig om te hekel, bak en brou ter voorbereiding van die groot dag. Die gemeenskap het ook hand bygesit om te verseker dat die basaar weer eens ’n sukses is.
Die basaar vind van 10:00 tot 13:00 by die Izak Badenhorstsaal plaas. Besoekers kan uitsien na heerlike kos, unieke uitstallers, ’n teetuin en natuurlik lekker gesels en kuier.
Verskeie kosstalletjies bied onder meer vetkoek, koeke, pannekoek, hamburgers, nageregte en kerrie-en-rys aan.
Die naaldwerk- en witolifanttafel is reeds vol interessante items wat besoekers kan kom ontdek.
