
Die oud sekretaris van Suidoos-Transvaal Rugby-unie, Julius Weber (87), is gisteraand in die SAVF Ouetehuis se siekeboeg op Middelburg oorlede.
Weber het sedert die begin van die jaar erg met sy gesondheid gesukkel en het saam met sy vrou, Helené, na die Belfast Rusoord verhuis, nadat hulle die laaste 11 jaar op Dullstroom gewoon het.
Sy been moes ook geamputeer word, nadat hy infeksie aan sy hak opgedoen het, wat nie wou genees nie.
Weber was een van die grondleggers van die destydse Suidoos-Transvaal en het diep spore as speler en op administratiewe vlak getrap.
Nadat hy van Pretoria na Witbank (nou eMalahleni) verhuis het, was hy ’n instelling op loskop vir Witbank Rugbyklub.
Hy het vanaf 1972 tot 1974 10 wedstryde vir Suidoos gespeel, met 1974 waarskynlik sy beste jaar toe sy klubmaat, Fanie Vermaak, op vaskop gesak het teen onder andere die Franse klubspan, Tarbas.

Dit is steeds die rofste en vuilste wedstryd wat nog in die provinsie gespeel is met Ben Badenhorst, wat later met die stuk van ’n Fransman se baard in sy hand gestaan het.
Ander strydosse in daardie jaar se Suidoos-Transvaal span was China Vorster, Boerpens Strydom, Lood Grobler, Kobus Ferreira, Harry Muller, Lukas Luus, Piet Lodder, Johan Spies (wat vandag 79 jaar oud is), Piet Cloete, Gawie Hugo, Polla Fourie wat die kaptein was en Martin van Eeden.
Na sy speeldae het Weber betrokke geraak by rugby administrasie en vir jare op die komitee van Witbank Rugbyklub gedien, waar Helené, en onder andere Hans la Grange se vrou, Meisie, hulle afgesloof het om die lekkerste etes voor te sit vir besoekende spanne.
Nadat Robert Brand die pos van sekretaris ontruim het, het Weber Suidoos-Transvaal Rugby-unie se sekretaris geword.
Hy is vir sy werk deur die Suid-Afrikaanse Rugby Raad vereer en het nog twee jaar gelede op Nelspruit, waar oud Suidoos spelers bymekaar gekom het, trots die groen baadjie gedra.
Weber laat behalwe vir Helené sy kinders Johanette en Kris Rozmiarek, Juliana Weber, Albert en Rentia Weber, Noelien en Johan Mills, kleinkinders Julius Rozmiarek, Krizette Rozmiarek, Helené en Frederik du Toit, Joluska Mills, Jan Petrus Mills, Meagen Weber en agterkleinkind Frané du Toit agter.