Columbus werknemer op pad werk toe amper van Hilux gekaap
’n Columbus werknemer wat gisteraand kort na 21:00 na sy werkplek ontbied is, is omstreeks 21:20 op pad Columbus toe, geteiken deur twee mans wat hom moontlik van sy nuwe Toyota Hilux-bakkie wou kaap.
Verlede week was daar vier kapings in die dorp, met die polisie wat bevestig het dat die kapers agter Hilux-bakkies aan is.
Mnr. Quintin Coetzee sê hy is op die Samora Machel- en Mandelalaan kruising deur die vermeende kapers geteiken.
Hy het by die verkeerslig gestop en gewik-en-weeg om oor die rooi lig te ry, omdat daar geen ander verkeer was nie.
Hy het egter besluit om eerder die verkeersreëls te respekteer en gewag dat die verkeerslig vir hom groen word.
Dis toe dat hy aan beide die linker en regterkant van sy bakkie aangeval is.
Die aanvallers het hard teen sy bakkieruite geslaan en ook die deure probeer ooppluk.
Hulle kon egter nie deur die glas breek nie, en gelukkig het Coetzee sy deure ook gesluit gehad.
“Ek het dadelik oor die verkeerslig gejaag na veiligheid en sowat 300m verder ’n wit minibus langs die pad opgemerk,” sê hy.
Die minibus, moontlik ’n Quantum, het nie registrasieplate gehad nie en Coetzee onthou dat daar ’n groot wit plakker met die gedeeltelike woord “snow” op die agterruit gehad het.
Hy het dadelik die polisie geskakel, wat hy omstreeks 02:00 die oggend met sy terugkeer huis toe, naby Twizza opgemerk het.
Hy het by hulle gestop en sy verhaal vertel, waartydens hy ingelig is van die vier kapings verlede week.
Coetzee sê dat hy so geskrik het, dat hy nie ’n oog kon toemaak na sy tuiskoms nie.
Hy is vandag vroegmore polisie toe om ’n saak oop te maak, waar hy aanvanklik ingelig is dat die polisie nie die saak kan open nie, omdat hulle dit gisteraand moes doen.
Coetzee het egter aangedring dat ’n saak geopen word, waarna hy deur ’n offisier bygestaan is.
Hy sê dat die aanvallers beide in swart geklee was.
Een het ’n rooi balaklawa aangehad en die ander ’n swarte.
Hy kon nie sien of hulle gewapen was nie.
“Die polisie sal hul sokkies moet optrek en meer gereelde patrollies moet ry vir sigbaarheid,” sê Coetzee.
“Kyk wat gaan op die N4 aan, en dit het nou dorp toe beweeg, dis totaal onaanvaarbaar dat mens nie eens meer veilig werk toe kan ry nie,” sê hy.
• Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot kaping.
