News

Dennesig vrou in kombuis aangeval, geskop, geslaan, gewurg

Vrou op teen-MIV behandeling na bloedige aanval in Dennesig.

’n Dennesig inwoner is gister om 08:25 in haar Louis Bothastraatwoning deur twee gewapende mans aangeval, grond toe gedwing,
aangerand en verwurg, voordat haar man wat net ’n dag vantevore uit die hospitaal ontslaan is, tot haar redding gekom het

Die egpaar, wat weens privaatheidsredes redes anoniem gehou word, sit nou en wag vir MIV-toetsuitslae, terwyl die vrou ook antiretrovirale behandeling ondergaan, nadat sy een van haar aanvallers aan die hand gebyt het.

Die man, wie se galblaas twee weke gelede verwyder is, was tot Dinsdag in die hospitaal nadat komplikasies ingetree het en hy twee verdere operasies moes ondergaan.

Die egpaar se tuinier werk elke Woensdag by hul huis, en die hek is soos oudergewoonte vir hom oopgelos om by die erf in te kon gaan.

Die booswigte het egter gebruik gemaak van die oop hek en die vrou kort nadat sy om 08:25 vir haar vriendin ’n boodskap op WhatsApp gestuur het in die kombuis aangeval.

Hulle het haar dadelik grond toe gestamp en beide bo-op haar geklim, met een van die aanvallers wat op haar borskas gesit het.
Sy is brutaal geslaan en geskop en ook gewurg.

Die man wat steeds in die kamer was, het ’n groot lawaai in die voorhuis gehoor en onraad vermoed.
Dis toe een van sy honde met ’n kabelbinder in die bek langs hom op die bed gespring het, dat hy dadelik besef het daar’s indingers in die huis.

Hy het hom kombuis toe gehaas, waar hy op die aanvallers geskreeu het om sy vrou te laat gaan.
Hulle het toe laat spaander.

CCTV beelde wat na die aanval verkry is, wys hoe een ’n man haastig, kort na die aanval by die straat afhardloop.

CCTV materiaal wys hoe ’n man na die aanval die straat afhordloop.

“Die hele aanval het letterlik twee minute geduur, maar ’n leeftyd se skade en trauma veroorsaak,” het die man boos gesê.

Die Sektor 4 Kanonkop en Dennesig Radiogroep het die paartjie dadelik te hulp gesnel en leeglêers in die strate van Dennesig ondersoek vir bytmerke aan die hand.

Die aanvaller is ernstig beseer toe hy gebyt is, gemeet aan die hoeveelheid bloed wat in die kombuis was.
Die vrou is dadelik dokter toe waar ’n MIV-toets gedoen is en sy op antiretrovirale behandeling gesit is.

“Ons vertrou dat God haar teen sulke nadraaie sal beskerm,” sê die man wat bylas dat die uitslae moontlik later vandag reeds beskikbaar sal wees.
Opvolg toetse sal egter weer gedoen moet word.

Die man het ook polisielede wat hy ken geskakel, wat binne minute op die toneel was.

’n Wapen wat lyk na ’n 9mm pistool, is deur een van die aanvallers agtergelaat.
Verskeie kabelbinders is ook in die kombuis gevind, wat daarop dui dat die aanval fyn beplan was.

“Dis ’n groot les, en al wat hieruit geleer kan word is om jou deure te sluit, al is dit 200 keer per dag, daai 200ste keer is dalk net die keer dat die krimineel toeslaan,” sê die man.

• Die span van die Dagpatrollie het die egpaar dadelik te hulp gesnel, die nodige hulp aangebied, die strate ingevaar om te help soek en ook die videomateriaal in die hande gekry.

• Volgens die Sektor 4 radiogroep word Kanonkop en Dennesig die afgelope twee weke weer swaar deur misdadigers geteiken.

• Sondagmore is daar twee bromponies uit ’n Impalastraat erf gesteel, nadat die hek daar oopgebreek is.

 
Back to top button