News

Gatiep beleef ‘lig’ toe sy hart gaan staan

Die oomblik toe sy hart gaan staan, het ‘Gatiep’ ’n hemelse ervaring gehad wat hy graag met almal sal wil deel.

“Almal het my Gatiep genoem omdat ek so baie gedrink het, maar ek is heeltemal genees van drank ook,” begin Wayne Botha vertel.

Hy weet talle mense sal hom nie glo nie, maar hy voel hy moet die wêreld vertel oor wat met hom gebeur het.

“Daar was asemrowende lig, nie soos sonlig of selfs goud nie. Ek glo ek het nog ’n doel op aarde, maar ek is glad nie meer bang om dood te gaan nie, want ek sal graag wil teruggaan soontoe. Daar is lewe na die dood!”

Hy het vroeër jare in Middelburg gebly en was hy en sy lewensmaat op ’n stadium by die Middelburgdam, later by die Koinonia Plaas van die Lewe in Liefde organisasie en ook op ’n wildsplaas.

Die laaste ruk was hulle in Pretoria en het hy twee weke gelede duimgegooi om terug te kom Middelburg toe om weer werk te soek.
Op pad hierheen het hy sy eerste brandpyn in sy bors gekry. Hy het dit later aan personeel by die kliniek ook genoem.

Terwyl hy na werk gesoek het in die industriële gebied, het dit weer gebeur en is hy na ’n besigheid om hulp te soek.
Daar was nie ’n provinsiale ambulans beskikbaar nie en het ’n ambulans van ER24 uitgekom.

Wayne sê in die ambulans het die paramedikuste al gesien daar is fout met sy hart.
In die hospitaal is hy dadelik gehelp en onthou hy hoe ’n dokter kort-kort kom kyk het hoe dit met hom gaan, omdat sy hart se ritmes rondgespring het.

Wayne Botha in die Middelburg Hospitaal nadat sy hart gaan staan het en die dokters gehelp het om hom terug te bring.

Tydens een van die besoeke deur die dokter, weet hy dat hy iets vir die dokter probeer sê het, maar die volgende oomblik was alles donker.

“Die dokter het later vir my gesê dat hy hartmassering moes doen, omdat my hart gaan staan het. Hulle moes my hart ook skok om weer aan die gang te kom.”

In hierdie tyd het Wayne die hemelse ervaring beleef.

“Daar waar ek was, het ek familie en vriende gesien wat al lankal oorlede is. Ook my eks skoonpa, wat destyds doodgebrand het.”
Hulle het almal in die rigting van ’n ander persoon gekyk.

“Ek glo dit was Christus. Daar is met my gepraat, maar dit was nie soos ’n mens met jou praat nie. Ek kon Hom egter verstaan. Hy het gesê ons maak oorloë onder mekaar, maar ons maak nie oorlog teen satan nie.”

Wayne weet nie of hy die boodskap reg verstaan het nie, maar hy glo die boodskap was oor die verhoudings tussen mense wat onder mekaar baklei. Hyself het gesukkel om mense te vergewe en verstaan dat die boodskap ook vir hom was.

Hy was nog verwonderd oor waar hy hom bevind, toe hy bykom en sien dat mediese personeel besig is om ’n pyp in sy keel te probeer druk.
“Ek het die pyp vasgebyt en regop gesit, waarna hulle vir my suurstof gegee het.”

Wayne is twee dae later ontslaan met medikasie.

“Ek móét almal vertel wat gebeur het!” het hy weereens die boodskap uitgeroep.

• Wayne wil graag die dokters en personeel van die Middelburg Hospitaal bedank, vir hul hulp en omdat hulle vir sy lewe geveg het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button