News

Marina se lewe vandag gevier

Marina Storm se gesin is dankbaar vir die meelewendheid en besondere sorg van die SAVF Tehuis vir die tydjie wat sy daar was.

Marina Storm (78), die saggeaarde vrou wat gelééf het vir haar gesin, se lewe word vandag gevier.

Die diens is om 11:00 uit die NG Kerk, Suid gemeente.

Me. Storm is op 23 Mei oorlede.

Haar seun, André, sê sy is die aand van 11 April opgeneem in die hospitaal met longontsteking.

Twee weke nadat die meeste medikasie gestop is, het sy steeds nie helder wakker geword nie en is sy vir ’n breinskandering gestuur.

‘n Breingewas van 4,5cm is op die regterkant van haar brein ontdek en het die familie die hartseer nuus gekry dat dit nie behandel kan word nie. Die dokter het hulle ook meegedeel dat sy 24uur sorg gaan benodig.

“Ons was só dankbaar om plek te kon kry in die Versorgingseenheid by die SAVF Tehuis vir Bejaardes.”
Me. Storm is op 4 Mei na die SAVF toe, maar was net vyf dae daar, toe ’n ambulans haar moes gaan haal omdat sy gordelroos gekry het.

Sy is verlede Woensdag weer terug SAVF toe na nóg twee weke in die hospitaal. ’n Dag later is sy oorlede.

“Sy was ’n kort rukkie by die SAVF, maar hul meelewendheid en sorg was fantasties! Ons is dankbaar om Donderdag heeldag by haar te kon wees, geestelike musiek te kon speel vir haar en vir haar te kon Bybel lees, wat nie in die hospitaal moontlik sou wees nie.”

André sê net voor hy en Liezl (sy vrou) gery het, het hulle “Die Seën” van Riana en Retief Burger gespeel. “Sy het gereageer, nadat sy die heeldag nie wakker was nie! Ons is dankbaar vir die Here se tydsberekening dat ons die dag daar saam haar kon spandeer.”

Me. Storm het op ’n plaas grootgeword, naby Middelburg en was op laerskool aan Laerskool Middelburg, waarna sy gematrikuleer het aan Hoërskool Middelburg.

Sy word oorleef deur haar man, Peet, kinders André, NM, Pierre en Marinus, vier skoondogters Liezl, Cindy, Erika en Carina, en nege kleinkinders.

Haar familie onthou haar as ’n positiewe persoon. “Ons ma en ouma was ’n mens wat ander gedien het, ’n vredemaker, liefdevol, baie lief vir mense, ’n uitgesproke Christen, altyd vriendelik, bedagsaam en baie saggeaard.”

• Persone wat die diens aanlyn wil volg, kan kort voor 11:00 net ingaan op dié skakel.

Lewensvieringsdiens van Marina Storm op 31 Mei 2024 om 11:00

Back to top button