KYK: Man wat skootrekenaar uit klas by laerskool steel, ook by hoërskool opgemerk
Dit is die tweede geval waar iemand bloot by skole instap en steel.

’n Man wat Maandag kort nadat skool verdaag het, doodluiters by ’n plaaslike laerskool by ’n klaskamer ingestap en ’n skootrekenaar gegaps het, was Dinsdag ook by Hoër Tegniese Skool Middelburg gesien.
Volgens adjunkhoof Johan Kruger word daar op dié stadium niks by die skool vermis nie, omdat daar moontlik te veel veel beweging was op die skoolterrein, terwyl van die klaskamers waar hy verby geloop het, kinders in gehad het.
@middelburgobserver Thief falls while stealing from a school in Middelburg. #middelburgobserver #middelburgmpumalanga #newssouthafrica
Hy is wel deur personeel opgemerk, met die skool wat sê dat die terrein daagliks met ’n valkoog dopgehou word, juis om sulke voorvalle te verhoed.
Die laerskool het op versoek van die polisie gevra om nie op dié stadium geïdentifiseer te word nie.
Die skool het ook nog nie beeldmateriaal van die diefstal op hul sosialemedia platforms gepubliseer nie, hoewel die beeldmateriaal reeds na die voorval Maandag op inwoners se sosialemedia pltforms gedeel word.
Dit word ook wyd op WhatsApp versprei en is aan Middelburg Observer deur talle bronne verskaf.
Die laerskool sê dat ouers wel van die voorval ingelig is.
Op beeldmateriaal kan gesien word hoe die man tydens die diefstal die rekenaar se koord oprol voordat hy die skootrekenaar voor by die blou baadjie indruk en die klas verlaat.
Op ’n tweede video kan gesien word hoe die man haastig ’n klaskamer inbeweeg en dan op sy agterstewe val, voordat hy op en in die lessenaar rondkrap.
Buite is sy voertuig ook op CCTV kamera vasgevang.
Die voertuig het Gauteng nommerplate opgehad.
Die nommerplate is egter vals.
@middelburgobserver Another school thief caught in action in Middelburg. #middelburgobserver #middelburgmpumalanga #newssouthafrica
Dieselfde voertuig en man is ook later by ’n koffiehuis in die middedorp opgemerk.
Daar is ander nommerplate weer op die kar opgemerk, wat nie met die nommerplate wat by die laerskool vasgevang is, ooreenstem nie.
Die polisie vermoed tans dat die man nommerplate ruil voordat hy toeslaan.
Dis tans onduidelik of hy plaaslik is of nie, en die polisie versoek inwoners wat die man kan herken, om met hulle in verbinding te tree.
• Dit is die tweede geval waar iemand bloot by skole instap en steel.
Lees meer hier:
Gary Roos (34), wat in Februarie vanjaar gearresteer is vir kardiefstal, is ook postitief verbind met onder andere inbrake by Hoërskool Kanonkop en Laerskool Dennesig.
Roos het in die hof verskyn nadat die voertuig waarmee me. Elfrieda Kruger die oggend Middelburg Primary School toe gery het, se sleutel uit haar klas gevat en die kar gesteel is by die skool.
By Kanonkop is onder andere die skool se kanon, wat tydens sportbyeenkomste gebruik word, gesteel.
Roos het dit die volgende dag by Bongani Metals probeer verkoop vir skrootmetaal, maar toe hulle te veel vrae vra, het hy weg gery.
Net ’n dag of wat later het die koerant verneem dat daar ook ingebreek is by Laerskool Dennesig, waar ses skootrekenaars en ’n projektor gesteel is.
Tydens dié inbraak, het die verdagte nie geweet dat die CCTV videokameras tydens beurtkrag wel aan is nie.
Daar is verneem dat die polisie, buiten die kardiefstal en inbrake by die twee skole, ook ander klagtes teen Roos ondersoek.
Dit sluit in:
• Diefstal uit motorvoertuig in Framestraat (Mineralia) in November 2023, waartydens daar onder andere ’n karbattery gesteel is.
• Huisbraak en diefstal gedurende Desember by ’n huis in Kanonkop (die slagoffers het gevra dat hul straatnaam nie genoem word nie) waar verskeie huisware gesteel is.
• Diefstal op 25 Januarie 2024 waar gereedskap by ’n huis in Coalstraat (Mineralia) gesteel is.