Klagtes hoop op teen vermeende kardief Gary Roos
Gary Roos (34), die man wat gearresteer is vir kardiefstal en ook postitief verbind word met onder andere inbrake by Hoërskool Kanonkop en Laerskool Dennesig, is vanoggend borg geweier.
Roos het verlede week in die hof verskyn nadat die voertuig waarmee me. Elfrieda Kruger die oggend Middelburg Primary School toe gery het, se sleutel uit haar klas gevat en die kar gesteel is by Middelburg Primary. Dit is me. Kruger se seun, Tjaart, se kar.
Roos is in Walter Sisulustraat gearresteer nadat mnr. Koos Vos die kar en Roos herken en die polisie gebel het.
Tydens sy eerste verskyning verlede Maandag is borg van R1 000 toegestaan, maar die borg is nie betaal nie en is hy in aanhouding gehou.
Sy borg is egter herroep en het hy vanoggend weer vlugtig in die hof verskyn op nie net die klagte van kardiefstal nie, maar ook vir die inbrake by Hoërskool Kanonkop en Laerskool Dennesig.
By Kanonkop is onder andere die skool se kanon, wat tydens sportbyeenkomste gebruik word, gesteel. Die inbraak was tydens beurtkrag.
Roos het dit die volgende dag by Bongani Metals probeer verkoop vir skrootmetaal, maar toe hulle te veel vrae vra, het hy weg gery.
By dié besigheid word ’n afskrif van ’n persoon se ID gemaak as enige kliët skrootmetaal wil verkoop.
Net ’n dag of wat later het die koerant verneem dat daar ook ingebreek is by Laerskool Dennesig, waar ses skootrekenaars en ’n projektor gesteel is.
Tydens dié inbraak, het die verdagte nie geweet dat die CCTV videokameras tydens beurtkrag wel aan is nie en het hy voor die kameras rondbeweeg.
Daar is helder oordag ingebreek by ’n klas en die aand het dieselfde persoon weer teruggekeer.
Personeel wat Roos ken, het hom op die videomateriaal herken.
• Daar is verneem dat die polisie, buiten die kardiefstal en inbrake by die twee skole, ook ander klagtes teen Roos ondersoek.
Dit sluit in:
• Diefstal uit motorvoertuig in Framestraat (Mineralia) in November 2023, waartydens daar onder andere ’n karbattery gesteel is.
• Huisbraak en diefstal gedurende Desember by ’n huis in Kanonkop (die slagoffers het gevra dat hul straatnaam nie genoem word nie) waar verskeie huisware gesteel is.
• Diefstal op 25 Januarie 2024 waar gereedskap by ’n huis in Coalstraat (Mineralia) gesteel is.
• Roos het borg vir die Hoërskool Kanonkopsaak van die hand gewys.
• Al die sake word nou saamgevoeg en die saak uitgestel na later in Maartmaand vir verdere ondersoek.
