News

Keagan gee Pumas skop

Keagan Killian se skopskoen was 'n groot rede waarom die Jong Pumas so goed gedoen het tydens hul Interprovinsiale toer.

Daar was skop in die o/12A Pumaspan wat verlede week by die Interprovinsiale toer geseëvier het met Middelburg se eie Keagan Kilian wat as losskakel uitgedraf het.

Keagan (12) is ’n trotse graad ses leerder by Laerskool C.R. Swart, en sy uitstekende skopskoen het gesorg dat die Pumas hom gekies het om vir die jong span as losskakel uit te draf.

Keagan was ‘n yster op die veld vir die o/12A Pumas.

“Rugby is in sy bloed, en hy is ’n gebore nommer 10, met ’n gemiddelde vyf uit ses skoppe wat oor die pale gaan,” het Mandi, Keagan se ma gesê.

Die o/12A Pumaspan het verlede week vanaf Woensdag tot Saterdag aan die Interprovinsiale toer deelgeneem, waar hulle Namibië in ’n internasionale wedstryd geklop het. Daarna het die span teen die Vrystaatse Cheetahs verloor, maar met hulle finale wedstryd weer geseëvier teen die Valke.

“Keagan lewe vir rugby, en skop al van drie af pale toe. Hy slaap, eet en herhaal rugby en was eers gekies as die Nkangala Eagles rugbykaptein en daarna die Pink Squad, voordat hy die hoof Pumaspan gehaal het.”

Volgens Mandi deel Keagan sy passie vir rugby met sy pa, Shaun, wat self ook provinsiale krieket en rugby gespeel het.
Shaun het aanvanklik vir die Oos-Kaap gespeel, en daarna vir die Pumas, waar hy ook pale toe geskop het.

Maar vir Mandi en Shaun is dit net soveel ’n wonderwerk dat hulle kind lewe, as wat dit is dat hy vir die Pumas gespeel het.

Keagan se ouers se harte het geswel van trots, terwyl hy vir die span gespeel het.

Dié jong man het al twee keer vantevore in die Observer verskyn.

“Op vyf maande het hulle geveg vir sy lewe, en het die dokters vir ons gesê hy gaan dit nie oorleef nie. Sou hy oorleef, sou hy meer as 80% breinskade hê,” het Mandi bygevoeg.

Ses jaar gelede het hy breinvliesontsteking opgedoen en was hy weer ernstig siek.

“Net geloof en gebede het sy lewe gespaar, en jy sal sien dat hy nie op die veld uitgaan voordat hy nie eers gebid het nie,” het Mandi trots gesê.

Keagan bid voor elke wedstryd.

• Ten spyte van die dokters se doem-diagnoses, weeg Keagan nou ’n gesonde 44kg en is 1.42 meter lank.

Back to top button