News

Carmen praat na kardiefstal en ander bewerings

Die vrou wat beskuldig word van kardiefstal en ander leuens, het in ’n onderhoud haar kant van die saak vertel.

Carmen White-Sharpley het vies geraak as daar gevra word oor allerhande bewerings teen haar en het dan vaag antwoorde gegee.

Sy is gekonfronteer oor ’n kardiefstalsaak, Facebook-boodskappe wat sy gestuur het vir haar biologiese dogter en ook ten minste drie ander mans waarby sy betrokke was.

Carmen het talle dinge ontken, alhoewel ons in besit is van die Facebook-boodskappe wat sy self geskryf het en erken het sy het geskryf.

Carmen is eerstens gekonfronteer oor die kardiefstalsaak.

Carmen was sedert 1 Maart in aanhouding nadat Kobus van Staden se kar twee dae vantevore by die Moddercourt Woonstelle in Middelburg gesteel is.

Kobus se dogter, Sylvia de Bruin, het inligting opgevolg en is Carmen en ’n ‘vriend’ (soos sy hom noem) in eMalahleni gearresteer en die voertuig teruggekry. Die vriend is die volgende dag laat gaan, omdat hy nie positief verbind word met die saak nie.

Die saak is op 17 April van die hofrol gehaal, hangende die ondersoek.

Sy het aanvanklik ontken dat sy die kar gesteel het. “Ek sê nie ek het nie iets verkeerd gedoen nie. Dis hoekom ek toegesluit is vanaf 1 Maart om ’n korreksie te doen, dis ’n korrektiewe fasiliteit.”
Sy het egter saamgestem “dat as ek iets vat, is dit steel.”

Carmen het die hele tyd gesê sy het bewyse waarom sy dit gedoen het, maar dat sy haar bewyse (wat klaarblyklik klankopnames en videos insluit), in die hof sal gebruik.

Sy het ontken dat sy ooit vir Kobus gevra het vir ’n afstandbeheer vir haar biologiese dogter om by haar by die woonstel te kom kuier.
Ten minste twee mense het bevestig dat sy dit wel gesê het en dat sy later gevra is om dit terug te gee.

Carmen het ook ontken dat sy twee weke by Kobus gebly het. “Ek het in die dag gewerk by hom en in die aande by my huis gaan slaap.”
Interessant om te meld dat Kobus haar juis ingeneem het omdat sy gesê het sy is op straat.

• In die boodskappe aan haar dogter sê sy ook dat haar ‘man’ haar gevat het na Kobus toe en hulle die aand saam met hom gebraai het.
Kobus wonder dan hoe sy hom kon toegesluit het in die woonstel en die volgende oggend 03:00 sy “kar gevat” het soos sy aangedui het.

• Sy het in boodskappe aan haar dogter se aanneemma gesê dat sy en Kobus in die tyd wat in die trok was, in die hof was en getuig het. Verder het sy gemeld dat die saak teen haar uitgegooi is en dat die hof Kobus aangekla het op ten minste drie klagtes. Dit is egter onwaar. Kobus is nie aangekla nie.

• Tydens haar arrestasie op die kardiefstalsaak in eMalahleni, het ’n persoon wat tydens die arrestasie daar was, ’n video geneem waar daar duidelik dwelms in die vertrek was waar Carmen en haar vriend was.
Carmen se antwoord daarop was: “watter dwelms?”

Hoe lank was sy saam met man wat onlangs oorlede is?

• Daar was ook ‘n bewering dat sy sou gesê het sy is getroud met ‘n man wat ‘n paar weke gelede oorlede is.

Carmen sê dat sy nooit vir enigiemand gesê het sy en die man, wat onlangs oorlede is (sy familie het gevra dat sy naam uitgehou word) is getroud nie.
Voordat daar begin is met vrae aan Carmen, het sy egter gesê dat dit ’n moeilike dag is vir haar, want sy is by haar ‘skoonma’.

Sy is uitgevra oor boodskappe waarin sy praat van die man as haar ‘oorlede man’ en dat hulle 14 jaar saam was. Vir die joernalis het sy gesê hulle was agt jaar saam en dat sy net van hom as haar man gepraat het omdat hulle so lank saam was.

Sy het klaarblyklik genoem in boodskappe aan ander dat sy en hy net ‘n jaar weg was van mekaar af.

Daarin sê sy ook dat sy in daardie jaar saam met ’n ene ‘Duncan’ was en dat hulle ’n baba gehad het, maar dat die baba gesterf het toe hy twee dae oud was.

Hier moet genoem word, dat sy in die tyd wat sy getroud was met haar eerste man, sonarfotos vervals het van ’n swangerskap en sy uitgevang is. Sy het die byskrifte van swangerskapfoto’s van ’n ander vrou met haar eie vervang en later te kenne gegee dat sy ’n miskraam gehad het.

Aan die einde van lang boodskappe aan haar dogter, erken sy dat sy nie met die man getroud was nie, maar dat sy hom net so genoem het omdat hulle so lank saam was.

Die familie van die man was woedend oor wat Carmen kwytgeraak het. “Hy het van so vier jaar terug af, gereeld net af en toe vir haar ’n kamer beskikbaar gestel om in te bly, omdat sy gereeld kom sê het sy is op straat. Daar was nooit ’n verhouding tussen hulle nie! Hy het haar jammer gekry!”

Hulle het kwaad gesê dat sy sowat ’n jaar gelede ’n lewenspolis op sy lewe uitgeneem het toe hy baie siek in die hospitaal was.
“Toe hy beter word, het die geld van sy rekening af gegaan. Dit beteken sy handtekening is vervals! Hy het drie maande gesukkel om dit van sy naam af te kry.”
Hulle het hom aangeraai om ’n saak van bedrog Carmen te open, “maar omdat hy ’n sagte hart gehad het, het hy gesê ons moet dit los!

Carmen se antwoord op die bewering is dat dit onwaar is en dat dit ‘n ‘ander vrou’ was wat dit gedoen het.

‘n Hangende diefstalsaak

• Daar is ook inligting gekry dat daar nog ’n diefstalsaak hangend is teen Carmen.

Die klaer, ’n man (wat anoniem wil bly), by wie sy ook twee weke gebly het (volgens hom), sê hy het in Januarie die saak geopen.
Van sy elektriese gereedskap in sy motorhuis het weggeraak terwyl hy by die werk was en sy by die huis was. Hy het die polisie laat kom om Carmen te arresteer.
“Ek het nooit weer van die polisie gehoor nie,” sê hy.

Volgens Carmen is die saak uit die hof uit gegooi.

Lys bewerings word net langer

• Daar was ’n bewering dat Carmen ’n paar jaar gelede by ’n kerk gewerk het en die kollektegeld gevat het. Sy het dit ontken.

• Ook dat sy voorgegee het dat sy ’n onderwyseres is en by ’n skool in Mhluzi gewerk het, waar sy na ’n jaar uitgevang is, omdat die onderwysdiploma vervals is. Carmen het niks van so ’n voorval geweet nie en gesê dis nie waar nie.

• In 2017 het die koerant geskryf oor Carmen wat by ’n gastehuis oorgeslaap het en nie betaal het nie.
Die gastehuis-eienaar het na die Observer toe gekom om ander gastehuise te waarsku.

Vir die gastehuis-eienaar het sy gesê haar naam is ‘Carien Dee’, ’n vervalste SMS boodskap gewys dat sy kwansuis wel die gastehuis betaal het en ook later gesê dat haar ‘man’, Flip Dee, die bewys van betaling ge-epos het.
Daar is ’n e-pos gekry van ’n ene ‘Flip’ af, maar daar was geen betalingsbewys nie. Die gastehuis-eienaar het later gesê sy glo Carmen het dit sommer van haar selfoon af gestuur.

Carmen het in die kamer waar sy gebly het, ’n boek agtergelaat met die naam: ‘Devil, Demons and Spiritual Warfare.’

• Die joernalis het Carmen destyds per selfoon in die hande gekry, waarop sy gesê het sy is in die hospitaal en daarom kon sy nie betaal nie. Daar is egter navraag gedoen by die betrokke hospitaal en sy was nie daar nie.

• Etlike dae later het sy dieselfde gedoen by ’n ander gastehuis, al 06:00 die oggend opgedaag en vir hulle gesê haar vriend, ‘Jason’ het die geld oorbetaal. Die geld het natuurlik nooit gewys nie.

Vir hulle het sy vertel haar pa is ’n dominee van Sabie en dat sy hom vir die geld sal vra.
Nadat sy hulle twee dae aan ’n lyntjie gehou het, het hulle haar uitgeskop.

• Toe ons haar destyds weer konfronteer oor nog ‘n gastehuis, was sy kamtig in die Middelburg Hospitaal.

• In 2015 het besighede die koerant genader nadat sy haar hare laat doen het vir R1 200 en nie betaal het nie. Daarna het R3 500 gevolg vir ’n bakkie se kollig en kabels, ’n sitkamerbank en selfs petrolgeld.

Carmen het allerlei hartseer stories aan die koerant vertel, soos dat sy onder andere in ’n hofgeding gewikkel is en dat daar wanbetalings was, omdat sy nie onderhoud kry nie en daar nie genoeg fondse in haar rekening was nie.

Sy het dadelik nadat daar destyds op Facebook ’n storm om haar kop losgebars het, haar skuld vereffen.
Haar woorde aan die joernalis was: “Ek weet dat ek deure agter my toemaak, en besef dat my familie ook nie veel langer vir my in die bresse gaan tree nie. Derhalwe poog ek nou om my lewe in orde te kry”.

• In ‘n onlangse onderhoud met Carmen se dogter, het sy gepleit dat mense nie Carmen se leuens moet glo nie.

Lees meer hier:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2024/03/11/dogter-vra-moenie-carmen-se-leuens-glo/

 

Back to top button