Tarries liggaam nog nie uitgeken nie
Die man wie se liggaam Saterdag laatmiddag by die Tarries fietsrybaan gevind is, is nog nie formeel uitgeken nie.
Die middeljarige man se liggaam is op ’n matras gevind waar hy op sy rug gelê het.
Hy het glo vroeër gekla van maagpyn en ander dakloses het nog vir hom water gegee voordat sy liggaam gevind is.
Verskeie inwoners het die Middelburg Observer al genader oor vermiste geliefdes, met vrese dat dit dalk die oorskot van hul geliefdes kon wees.
Tot dusver kon ’n positiewe identifikasie egter nog nie gemaak word nie.
Verskeie dakloses sê dat hulle bloot die oorledene geken het as “Vincent”.
Met die voortslepende ondersoek na die oorledene se identiteit, is daar intussen afgekom op minstens twee nuwe swerwers in die dorp.
Kry jou uitgawe van die week se Middelburg Observer vir meer oor die groeiende dakloosheidsprobleem op die dorp.
