Video: Vyf wat aangekla word oor R2 miljard dwelmlaboratorium nou in hof
Die vyf mans wat aangekla word nadat die Limpopo Valke toegeslaan en 'n kristal-metamfetamien dwelmlaboratorium, ter waarde van R2 miljard, op 'n plaas in Groblersdal oopgevlek het, is vandag weer in die hof.
Die vyf beskuldigdes is pas ingebring in die hof.
Die plaaseienaar van Thjaba E Monate, Roelof Frederik Botha (57), verskyn saam met vier ander beskuldigdes, Simphiwe Melvin Khumalo (34), Alejandro Gutierrez Lopez (43), Jorge Humberzo Gonzalez (53) en Ruben Vidal Rodriguez (44), weer vandag in die hof.
Hulle is gearresteer na ’n R2 miljard dwelmlaboratorium op 19 Julie op ’n plaas buite Groblersdal deur die Valke oopgevlek is. Die polisie het beslag gelê op 408,95kg asetoon en kristalmetamfetamien.
Daar is begin met Botha en Khumalo se eedsverklarings vir borgaansoek op 1 Augustus, maar die tyd het uitgehardloop en is die saak uitgestel na vandag vir voortsetting van hul borgaansoek.
Botha het in sy eedsverklaring gesê dat hy nie van die dwelmlaboratorium geweet het nie en Khumalo het aangevoer dat hy net ’n koerier was en nie geweet het dat dit wat hy vervoer het chemikalieë is vir die vervaardiging van dwelms nie.
Volgens Khumalo het hy gedink dit is skoonmaakmiddels vir vee.
Lopez, Gonzalez en Rodriguez (Meksikaanse burgers), het voorlopig hul aansoeke om borg laat vaar, terwyl Botha en Khumalo se borgaansoeke vanmiddag voorgesit sal word.
Die mans staan tereg op klagtes van die vervaardig van onwettige dwelmmiddels, handeldryf in die middels, of alternatiewelik die besit daarvan, en geldwassery.
Die staat voer aan dat hulle die beweerde misdade met ‘n gemeenskaplike doel gepleeg het.
Omdat die dwelms ‘n geskatte waarde van meer as R1 miljard het, maak die klagtes deel uit van ‘n skedule vyf oortreding, en staan die staat dus hul borgaansoeke teen.
@middelburgobserver The four suspects arrested for operating a R2 billion illicit drug lab in Groblersdal, appear in court. They were said to be operating a lab to make illicit drugs including acetone and crystal meth. Two of the suspects are Mexican nationals.