News

Kinders moet op ‘ashope’ speel

Parkies wat vir kinders bedoel is, het ’n trekpleister geword vir morsjorse.

Raadslede veg ’n verlore stryd teen die misbruik van openbare fasiliteite soos parkies en ons dorp se kinders ly daaronder.

’n Aerorand-inwoner het sy misnoeë uitgespreek oor die gemors in parke en openbare dronkenskap wat in openbare speelareas toeneem.

Volgens mnr. Lou Botma is “Middelburg besig om in ’n ashoop te verander en is dit ’n blatante skande dat die dorp se parke ten gronde gaan weens dronkaards!”

Mnr. Botma het verskeie foto’s gedeel waar kinders tussen hope gemors en stukkende drankbottels speel.

“Dan praat ’n mens nie eens van ouers wat hulle kindertjies saam in ’n voertuig laai en met besope liggame daar wegry nie.”

Mnr. Botma het die afwesigheid van munisipale wetstoepassing uitgewys en gesê dat niemand daar is om te keer dat “ons eens pragtige dorp ’n ashoop van dronkaards word nie.”

Hy het ook gekla dat die kwessie onder die aandag van twee raadslede gebring is, maar dat “daar nog geensins iets aangaande die gemors gedoen is nie.”

• Volgens rdl. Hennie Niemann, is die vullisstorting en openbare dronkenskap ’n algemene probleem.

“Die inwoner het dit onder my aandag gebring en ek het die besoedeling gerapporteer aan die parke- en vullisdepartement, en gevra dat hulle moet skoonmaak. Ek het ook met die direkteur van munisipale wetstoepassing gepraat, maar ons het nie genoeg amptenare om daaraan aandag te gee nie.”

Rdl. Niemann het dit as ’n “nimmereindigende probleem” beskryf wat oral in die dorp se oop ruimtes, elke naweek plaasvind.

“Die polisie se hulp word benodig om openbare misbruik van drank aan te spreek. Anders as om dit te rapporteer en te vra dat daar skoongemaak word, kan raadslede nie veel meer daaroor doen nie. Ons veg ’n verlore stryd,” het hy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button