Man vertel van jaagtog agter vermeende watermeterdiewe aan
Die GPF-lede het vanmiddag soos 'n geoliede masjien saamgewerk om vermeende watermeterdiewe vas te trek.
Een van die GPF-lede wat deel was van die jaagtog agter vermeende waterdiewe aan, het vertel hoe hulle heen en weer rondgejaag het om die voertuig vas te keer.
Vier verdagters, drie mans en ‘n vrou, is gearresteer en ‘n hele sak vol watermeters in hul besit gekry.
Lees ook: Water meter suspects ‘caught wet-handed’
Herculaas Taljaard meld dat hulle almal vandag die CCTV videomateriaal gesien het van die verdagtes wat met ‘n groot klip die pyp stukkend gegooi het om by die watermeter uit te kom. Die verdagtes het weg gekom in ‘n blou Ford Fiësta.
@middelburgobserver The latest incident took place this afternoon at roughly 13:15 on Springbok Street, where a blue car can be seen scouting houses for potential meters. Once locked in, the car pulls over, with one man exiting, and then smashing the water meter with what appears to be a rock, in order to dislodge the pipping.
Al die gemeenskapspolisiëringslede (GPF) het hul oë oopgehou en laatmiddag het Gerhard en Elizma Gouws die voertuig opgemerk waar dit afgedraai het vanaf Meyerstraat in Brugstraat in. Hy het hulle ongemerk begin volg.
Die voertuig het gery tot in Bonckerstraat, vandaar tot in Koetsstraat, waar dit links gedraai het tot onderkant Eastdene.
Vandaar het hy uitgery op die Cowen Ntulistraat verlening en is regs uit op die N11, in die N4 se rigting. Hy het al die lede die hele tyd op hoogte gehou waar die voertuig heen beweeg.
By Rockdale het die Fiësta ingedraai en het gery tot by Uitbreiding 24, met Gerhard agterna. Die blou voertuig het ingedraai by ‘n erf en het ‘n man, wat iets in sy hand gehad het (dit is onseker of dit ‘n wapen was), uitgekom. Gerhard het stadig agteruit beweeg, want hy wou nie dat hulle hom op daardie stadium al sien nie.
Na ‘n kort rukkie is die Fiësta weer terug na die N11, waar hy links gedraai het in Mandelastraat.
Herculaas, met Pedro Strydom by hom in die voertuig, het in daardie rigting beweeg en op pad soontoe by ‘n verkeersvoertuig gestop en die verkeerslid gevra om hulle te help.
Die Fiësta het intussen afgedraai in Jeppestraat, maar omgedraai en teruggekeer Mandelastraat se kant toe.
“Ek en die verkeersman het van voor af gekom en het die verkeersman oorbeweeg in hul baan in om hulle af te trek. Hulle het egter ingejaag in die veld in waar die vullisterrein agter Twizza is. Een van ons lede het hulle egter afgeblok van voor af en ons ander voertuie het saam met die verkeersman langs en agter hom inbeweeg.
Die drie mans is aangesê om uit te klim en die vrou het in die blou voertuig bly sit tot die polisie oomblikke later opgedaag en alvier gearresteer het.
Juanitha Groenewald (GPF voorsitter) het die polisie gekontak en was hulle vinnig daar om die verdagtes te arresteer.
“Ek is so trots op my lede wat kop gehou het, asook die verkeersdepartement wat kom help het en die polisie wat so gou op die toneel was!” het Juanitha pas gesê.
- Die verdagtes behoort more in die hof te verskyn. ‘n Foto van die vier is wyd op sosiale media gedeel, maar kan ons nie die foto nou publiseer nie, omdat hulle nog nie in die hof verskyn het nie.
