Nog ’n beskuldigde in bagasiebak moordsaak
Daar is nou weer vier beskuldigdes in die moordsaak van die jong man wie se oorskot in ’n uitgebrande voertuig gekry is.
’n Vierde beskuldigde het hierdie week in die hof verskyn vir moontlike betrokkenheid by die moordsaak van Danie Maritz (27) wat in November 2023 by ’n skrootmetaalbesigheid in Middelburg vermoor is. Sy liggaam is later in ’n uitgebrande voertuig van een van die beskuldigdes, Angy Appelgryn, naby ’n myn in Clewer gekry.

Emele Jacobs het saam met Angie (Angelique) Appelgryn, Jan Jordaan en Kobus Pretorius in die streekhof op Middelburg verskyn.

Jacobs en Appelgryn word aangekla vir moontlike betrokkenheid tydens die gebeure ná die moord en Jordaan en Pretorius vir die moord op Danie.
Appelgryn het reeds tydens die borgverhoor borg gekry. Jordaan en Pretorius is steeds in aanhouding. Na wat verneem word is Pretorius in die proses om aansoek te doen vir borg, nadat hy voorheen borg van die hand gewys het.



Die saak het vlugtig voorgekom en is uitgestel na ’n latere datum vir afskrifte van die dossier.
• Alex Grobler is ook aangekla op die saak en het in ’n pleitooreenkoms met die staat sy aandadigheid in die gebeure erken en is in Oktober verlede jaar vir vyf jaar tronk toe gestuur.
Hy het in die pleitooreenkoms presies die gebeure geskets, soos dit, volgens hom, afgespeel het toe Danie die nag van 15 November vermoor is en hy later die kar aan die brand moes gaan steek.
Lees ook: Bagasiebakmoord – beskuldigde erken hy het kar aan brand gesteek
