News

Bagasiebakmoord – beskuldigde erken hy het kar aan brand gesteek

Een van die beskuldigdes in die bagasiebakmoord het skuldig gepleit en is tronk toe gestuur.

Alex Grobler (44) het as deel van ’n pleitooreenkoms pas skuldig gepleit op die klagte dat hy deel was daarvan om Danie Maritz se lyk en die voertuig aan die brand gesteek. Daar is ooreengekom op vyf jaar direkte tronkstraf en het die hof dit so aanvaar.

Terwyl Grobler se advokaat, Gerhard Botha, die pleitooreenkoms voorgelees het, het Danie se broer, JJ en sy pa, Willem, die hele tyd trane afgevee.

Grobler se familie, waaronder sy ma, se snikke is ook in die hof gehoor.

Adv. Botha het voor die pleitooreenkoms gelees is, gesê dat hy, Grobler en die oorledene se familie bymekaar gekom en Grobler vir vergifnis by Danie se familie gepleit het. Hulle het sy verskoning aanvaar en was tevrede met die vonnis waarop daar ooreengekom is.

“Dit moes guts gevat het om met ons te praat,” het beide Willem en JJ gesê na die hofverrigtinge gesê.

Vroeër vanoggend is toestemming in die C-hof gegee dat Grobler se saak geskei kan word van die res van die beskuldigdes. Die ander beskuldigdes is Angie Appelgryn, Jan Jordaan en Kobus Pretorius. Die hof het ingestem en is die saak oorgedra na die streekhof, waar Grobler skuldig gepleit het op die klagtes.

Alex Grobler.

Grobler sê hy is geskakel die aand van Danie se moord

In die pleitooreenkoms is gesê dat Grobler op 15 November 2023 ’n oproep gekry het van Angie (Angelique) Appelgryn dat hy haar moet kom help met ’n liggaam, want sy en die ander het ’n moord gepleeg in Middelburg.

“Ek het nie geglo dat sy ’n moord gepleeg het nie, want ek het Angie geken van die tyd af wat ek vir haar pa gewerk het as insleepdrywer.”

Daar is verder gesê dat sy aangedui het dat sy hom sal kom oplaai en het hy vir haar ’n pin-aanwysing gestuur het waar hy bly.

Angie en ’n ander man (’n naam is genoem, maar nie ’n beskuldigde nie) het hom opgelaai en het hulle hom gevat na ’n skrootmetaalbesigheid in Middelburg. Daar is gesê dat dit die eerste keer was dat hy by die betrokke besigheid gekom het.

Die ooreenkoms sê dat Angie die hele tyd in telefoniese kontak was met nog ’n ander persoon wat vir haar die hele tyd instruksies gegee het. (Sy naam word ook nie genoem nie, omdat hy nie een van die beskuldigdes is nie).

Die man wat saam met hulle in die voertuig was het die hekke by die skrootmetaalbesigheid oopgemaak en is dit weer toegesluit.

Wys met selfoonliggie vir hom die lyk

“Angie het met ’n selfoonliggie die oorledene gewys en ek het daar vir die eerste keer besef dat iemand ’n moord gepleeg het. Ek was bang en het dadelik vir Angie gesê ons moet die polisie skakel. Angie het gesê dat as ek haar nie help met die oorledene se liggaam nie, dan sal niemand die besigheid verlaat nie.”

In die ooreenkoms word gesê dat Grobler bang was en wou weghardloop, “maar die hekke was gesluit en ek kon nêrens heengaan nie. Ek het vir Angie gesê ek wil toilet toe gaan, want ek wou kyk of ek kon vlug, maar sy het ’n persoon saam met my gestuur en daar was geen plek waarheen ek kon vlug nie.”

Die verklaring sê verder dat Angie hom aangesê het om die lyk in die wit Audi A3 te laai. “Ek het geweet dit is Angie se kar.”

Hy het die ander persoon gevra om hom te help, maar het Angie klaarblyklik vir hom gesê om nie te help nie en het Grobler die lyk alleen gelaai. “Ek was bang, maar Angie het gesê as ek nie die liggaam in die kar laai nie, dat niemand die skrootmektaalbesigheid sal verlaat nie.

Hy sê dat Angie vir die persoon wat saam met hulle gery het, gesê het om die hek oop te maak en dat hulle gery het met die lyk in die bagasiebak. “Angie het bestuur.”

‘Niemand gaan nêrens heen nie’

Grobler se ooreenkoms sê hy het weer vir haar gesê dat hulle polisie toe moet gaan, maar dat sy hom stilgemaak het en gesê het dat niemand nêrens heengaan nie.

Daar is verder gesê dat ’n betrokke persoon vir Angie geskakel het en haar aangesê het om die oorledene se liggaam te verbrand. Die ander persoon, wat van die begin af ook saamgery het, is in eMalahleni afgelaai. Vandaar is hulle na die plek waar Angie saam met die ander persoon (met wie sy die hele tyd op die foon was) gebly het.

“Angie het vir my gesê om huis toe te gaan en die kar te brand met die lyk daarin. Sy het vir my haar karsleutels gegee en ek is huis toe. Ek het nie geweet wat om te doen nie. Die was omtrent 24:00 (middernag).”

Was bang, want weet wat het met oorledene gebeur

Die ooreenkoms sê ook dat Angie vir Grobler omstreeks 03:00 begin skakel het en gesê het hy moet die kar met die lyk brand. “Ek was bang, want ek het geweet wat met die oorledene gebeur het.”

Aldus Grobler se bekentenis, het Angie gesê dat sy en die ander persoon (naam word weerhou) petrol sal bring om die kar en liggaam te verbrand. “Hulle het opgedaag met die petrol en my aangesê om die kar met die lyk in die bagasiebak daarin, te verbrand.”

Hy het gesê dat hulle hom na die gebeure met ’n blou Bantam bakkie, waarmee hulle die petrol gebring het, gaan aflaai het.

Danie Maritz se oorskot is in die bagasiebak gevind nadat die voertuig uitgebrand het.

Niks met moord te doen gehad nie

“Ek het niks te doen gehad met die moord nie, maar ek erken dat ek op instruksie van Angie en die ander persoon die oorledene en voertuig aan die brand gesteek het, omdat ek gevrees het vir my lewe.”

Keel was drie keer gesny

Aan die einde van die pleitooreenkoms is gesê dat Grobler gesien het dat die slagoffer se keel drie keer gesny is. “Hy was reeds dood met my aankoms by die besigheid. Ek het eers later uitgevind wie die oorledene was.

Die ooreenkoms sê verder dat hy wel erken dat hy die kar aan die brand gesteek het, maar dat hy dit gedoen het omdat hy vir sy lewe gevrees het.

“Ek weet dit wat ek gedoen het is verkeerd en dat ek dit gedoen het onder druk, maar my aksies was teen die wet. Ek bid vir vergifnis en genade.”

• Die oomblik toe Grobler gevonnis is, het sy ma gou na hom toe geloop en het hulle, terwyl albei se skouers geruk het van rou snikke, van mekaar afskeid geneem. Daarna is Grobler selle toe geneem.

Respek vir oorledene se familie

• Adv. Botha het na die vonnis gesê dat hy die grootste respek het vir die oorledene se familie.

“Danie se ma, Magda, het tydens die vergadering met hulle en Alex, na Alex toe gegaan en hom ’n drukkie gegee. Wat ’n Christus gesindheid! Alex wou skoonkom. Hy was nie vol brawade nie, maar het met trane in sy oë en die diepste berou sy aandeel erken.”

Lees ook: Bagasiebakmoord vier vlugtig voor

 

Do you have information on a news story you think we should cover?

Please send an email to our Editor at daleen@mobserver.co.za or phone us on 072 248 3855.

To keep updated and informed on all the latest Middelburg news, visit our official social media pages:

FacebookInstagram, TikTokX (Formerly Twitter), and YouTube.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button