Video: Monster luislang sluk hond in
Dit het brute krag geverg om 'n reuse rotsluislang te vang wat amok gesaai het op 'n plot.
’n Reuse luislang het ‘n gesin se hond gevang op ‘n plot.
Oud-Middelburger, Fanie Strydom vertel hoe hulle moes bontstaan om ‘n Suidelike Afrika rotsluislang van 3.5m te vang en weer veilig los te laat. Fanie was lank die ondervoorsitter van die Middelburg Herpetologiese Vereniging.
Hy het breedvoerig vertel hoe hy en Carel Jonker al hul kennis moes toepas om die sterk slang in moeilike omstandighede moes vang en later losgelaat het. Fanie bly tans in Phalaborwa waar hy die voorsitter is van hul herpetologiese vereniging. Carel is die ondervoorsitter.
Fanie vertel dat hulle gekontak is deur mnr. Kallie Kruger op ’n plot sowat 8km buite Phalaborwa. Daar is boerbokke, eende en hoenders op die plaas en het mnr. Kruger gesien die slang het iets gevang.

Hy het aanvanklik gedink dit is een van sy bokke wat gevang is, want toe hy die oggend die hek oopmaak het die bokke vreemd opgetree en wou nie uit die kamp uitgaan nie. Hy het rondgesoek aan die buitekant van die bokke se kamp en die luislang tussen die bamboesbosse gewaar.
“Hy het vir my gesê ek moet iemand saambring, want dit is ’n groot slang. Ek het vir Carel saamgevat.”
Dit was omtrent ’n onbegonne taak om die slang te vang. “Na seker so 20 minute se stoei in die bos, het die slang opbeweeg in die bamboes en geklim. Daar het ek besef as ons hom nie nou vang nie, gaan ons hom verloor en hy gaan buite bereik wees.”

Fanie het tussen die bamboese deurgedruk en ’n kans gevat en hom agter sy kop gegryp. “Ek het eers ’n selfie geneem terwyl ons bo tussen die bamboes gekoek was,” sê hy laggend.
Carel het ombeweeg waar Fanie vir hom die kopkant aangegee het om hom veilig te laat sak en in die houer te kry. “Ons was albei papnat gesweet want dit was 40 grade met ’n baie hoë humiditeit.”

Op daardie tydstip het hulle nog gedink dit is ’n bok wat die knewel van ’n slang gevang het. Hulle was bang dat hy sy vangs sou opbring en het hom toegemaak in die houer, “om stres minder te maak vir die slang.”
Hulle moes vinnig ’n plan beraam waar om die slang los te laat en het Carel se vrou, Olive, begin soek vir ’n geskikte plek vir die massiewe slang.
“Terwyl ons gesoek het vir ’n nuwe tuiste, het ek die slang na my huistoe gevat waar ons hom in die kamer gesit het onder die lugverkoeling, sodat hy nie sou oorverhit nie.”
Kort daarna het hulle toestemming gekry op ’n wildsplaas om die slang tussen die klipkoppies en ’n dam los te laat, waar hy maklik sal aanpas.
@middelburgobserver Monster python believed to have devoured a dog. It was a mission impossible-esque job for the two men to capture the snake.
• Daar is intussen verneem dat al die bokke in die kamp is en mnr. Kruger se hond weg is, wat ’n aanduiding is dat die slang die hond gevang het.
• Die manne was nog besig om die slang los te laat, toe hulle gekontak is deur ’n lodge in die omgewing met inligting dat daar ’n slang in een van die toilette is. Nadat daar met spesiale kameras ondersoek ingestel is, het hulle die boonste deel van die toilet verwyder en die slang, ’n Mosambiekse spoegkobra, verwyder.


• Fanie-hulle het verlede week ook ’n Mosambiekse spoegkobra gevang.
