Video: Gestrand op die N4 – vrou vertel van ure op die pad na ongelukke en kansvatters wat nie wou wag nie
'n Vrou vertel hoe hulle een van die hordes motoriste was wat vir ure op die N4 gestrand was na die twee ernstige ongelukke vroeër vandag.
Middelburgers Gerrie en Elbie de Lange was van die vele motoriste wat vandag op die N4 gestrand was na die ongelukke by Berg-en-Dal buite Belfast. Hulle was ook ooggetuies van kansvatters wat in aankomende verkeer ingejaag het en dit moeilik gemaak het vir noodwerkers.
Met hul terugkeer na Middelburg vanaand het Elbie ook ‘n video geneem waar tientalle motoriste aan die verkeerde kant van die pad verbygaan.
Die egpaar het vanoggend om 09:30 by Ngwenya Lodge gery en nie gedink dat die pad terug na hul tuisdorp in so ‘n nagmerrie sou ontaard nie.
Hulle glo hulle was van die eerste voertuie in die verkeer wat gestop is na die eerste ongeluk, want hulle is omstreeks 13:30 gestop. Daarna het hulle vir nog sowat vier kilometer beweeg, waarna die verkeer heeltemal tot stilstand gebring is by die Berg-en-Dal Monument.
“Ons vermoed dat dié ongeluk net voor ons moes plaasgevind het, want ons het goed beweeg en toe is die verkeer net weer gestop.”
Hulle het besef dat hulle lank op die pad gaan wees en het hulle besig gehou op hul selfone en geknibbel aan biltong en ander lekkernye.
“Ons het gesien hoe vroue en mammas met kinders in die bosse ingaan om nood te verlig.”
Hulle was egter baie bekommerd toe ongeduldige motoriste in die aankomende verkeer begin inry. “Een trok met ‘n sleepwa het sommer tussen die bome deurgery!”

Gerrie en Elbie het ook opgemerk hoe noodvoertuie wat op N4 moes ry om by die tonele uit te kom, op die grondgedeelte moes verbygaan, omdat kansvatters in die aankomende verkeer ingejaag het.
Hulle het besef dit moes ernstige ongelukke gewees het, want, “Van die noodvoertuie het eers twee ure later weer teruggekom op die pad nadat hulle op die toneel gehelp het.”
Om 15:43 het Gerrie ‘n foto geneem van die ongelukstoneel sowat 200m van hulle af en kon die mistige toestande steeds gesien word.
Met die oopmaak van die pad kort voor 18:00 was daar steeds onophoud en het voertuie teen ‘n slakkegang begin beweeg. Verskeie voertuie wat in die rigting van Nelspruit beweeg het, het weer in die aankomende baan inbeweeg. Voertuie wat in Middelburg se rigting gery het, moes noodgedwonge in die stadige baan agter trokke aankruie om trompop botsings te vermy.
Elbie het laat weet dat die verkeer eers sowat 20km voor die Alzu Petroport normaal begin vloei het.
@middelburgobserver Ongeduldige motoriste ry in aankomende verkeer in na twee ernstige ongelukke op die N4 by Berg-en-Dal buite Belfast. Aankomende verkeer op pad na Middelburg moes noodgedwonge in stadige baan ry om nog ongelukke te voorkom.