Aanvallers skiet op vrou net etlike dae na plaasmoord by bure
Vyf dae nadat ’n 78-jarige man op ’n plaas op die Harteluspad vermoor is, is daar ’n kilometer verder deur vensters van ’n huis op ’n 64-jarige vrou losgebrand.
Net etlike dae nadat die 78-jarige mnr. Robert Stoltz op die plaas Stofkraal vermoor is, is ’n vrou op ’n buurplaas met ’n windbuks in die gesig en in die agterkop geskiet.
Aanvallers het gisteraand kort voor 19:00 deur ’n slaapkamervenster en later deur die sitkamervenster met ’n windbuks losgebrand op me. Miemie Maritz (64).
Die huis waar sy bly is sowat ’n kilometer vanaf die plaas waar mnr. Stoltz verlede Woensdag vermoor is.
Lees ook: Bejaarde wreed op plaas vermoor
Me. Maritz se broer, Gerhard Stoltz (wat aan vaderskant familie is van mnr. Robert Stoltz se familie) sê sy suster, wat sowat ’n kilometer en ’n half van hom af bly, was in haar kamer toe die eerste skoot klap en sy in die agterkop gewond is.
Sy het opgespring en gehardloop na die sitkamer om Gerhard met die tweerigtingradio te kontak en ook haar skoonsuster te skakel. Op hierdie tydstip het die aanvallers deur die sitkamervenster geskiet en haar net onder haar oog op haar neus raakgeskiet. Dit blyk dat die boosdoeners daarna gevlug het.
Gerhard het sy suster hospitaal toe geneem, maar gelukkig het die windbuks se koeël nie die vel binnegedring nie. “Die dokter het gesê sy is baie gelukkig…”
Gerhard meld dat sy suster te getraumatiseerd is om op hierdie stadium te weet of die aanvallers te voet of met ’n voertuig gekom het.
• Oom Robert se familie het gemeld dat al sy wapens, waaronder ’n windbuks, ’n paar weke voor die aanval gesteel is. Hulle het vir hom weer ’n paar dae voor sy 78ste verjaardag in April ’n nuwe windbuks gekoop.
Hulle het later agtergekom dat buiten sy voertuig, dié windbuks ook gesteel is tydens die aanval en moord.
• Oudkol. Sakkie Louwrens (Bosveldmisdaadondersoeke), wat betrokke is by beide ondersoeke, sê hulle vermoed dat dit dieselfde aanvallers is wat mnr. Stoltz vermoor het, wat op me. Maritz geskiet het.
Die vermoede bestaan ook dat dit dieselfde windbuks is wat gesteel is tydens die moord, wat gebruik is om me. Maritz te skiet.
• Beide die plase is geleë op die Harteluspad (Laersdrif/Roossenekal omgewing).
