Nog ’n sterfte op Henbase Lodge, waar Willem Kruger in Vaalrivier gevind is
Lodge eienaar se dogter dood in bakkie gevind
Ongeveer twee jaar nadat Willem Kruger se liggaam in sy bakkie in November 2022 by die Henbase Lodge tussen Morgenzon en Amersfoort uit die Vaalrivier gesleep is, is die lodge se eienaarspaar Johan en Ansie Claassen se dogter, Jeanine van Eck, dood in haar pa se bakkie op die lodge gevind.
Dis tans nog onduidelik wat vir haar skielike afsterwe verantwoordelik was.
Medelye stroom sedert gisteraand op sosialemedia vir die egpaar en hul familie in, met Morgenzon Landbou Akademie, waar Jeanine self skool gegaan en ook onderwyseres was, wat onder meer hulde aan die ontslape Van Eck gebring het.
Die skool het sy innige meegevoel aan haar ouers Johan en Ansie betuig in ’n hartroerende plasing.
Henbase Lodge was sedert die verdwyning van Willem Kruger gedurende rampartyvieringe in November 2023 pal in die kollig.

Landswye gebedskettings is na Willem se verdwyning op 13 November by die lodge begin, na hy en sy bakkie die nag van die rampartytjie spoorloos verdwyn het.
Middelburg Observer het op 22 November 2022 berig dat Willem se liggaam in sy bakkie gevind is, nadat hy vermoedelik per ongeluk die rivier ingery het digby ’n brug op die plaas.
Die bakkie, met Willem daarin, is onder ’n wilgerboom in die Vaalrivier gevind, waar vroeëre soektogte niks opgelewer het nie.
Die bakkie is met ’n trekker uitgesleep.
Daar is berig dat Willem se GPS in sy bakkie glo gewys het dat hy die water ingery het.
’n Hartgebroke Johan wou nie met Middelburg Observer gesels nie.
Hy het wel gesê dat sekere mense altyd die, “lelike sal soek en vind,” in verwysing na die fel kritiek waaronder die Claassens na Willem se dood deurgeloop het.
Johan het bygelas: “My kind is dood, punt. Ek is dankbaar vir die tyd wat sy vir ons gegun was.”
Media24 het intussen berig dat Van Eck kort voordat sy in Johan se bakkie gevind is, vir hom ’n baadjie gevat het.
Sy was midde in ’n egskeiding, maar het geen gesondheidsprobleme gehad nie, is berig.
Sy laat haat vyfjarige seuntjie en driejarige dogtertjie agter en die kinders is tans by Johan en Ansie, waar Van Eck uitgehelp het met die lodge en boerdery.
Volgens Media24 word daar tans nog op ’n patologieverslag gewag rakende die oorsaak van haar dood.
