News

Ons lemloper stap wéér vir katte én kry ’n nuwe prostese!

Ons dorp se lemloper kry een van die dae haar nuwe prostese en sal sy nou nóg makliker oor ongelyke terrein kan beweeg!

Etta Vosges loop nie net vir katte nie, maar sy voel self soos ’n kat wat room gekry het, want sy kry een van die dae haar nuwe prostese!

“Die nuwe prostese sal meer stabiliteit bied as ek stap! Hulle sê ek sal egter nie so vinnig as met die lem kan loop met dié prostese nie, maar ek gaan hulle nog verkeerd bewys!” vertel sy met haar alomteenwoordige positiewe gesindheid.

Etta het twee weke terug wéér die langpad aangedurf vir ons dorp se katte!
Vosges, haar man, Douw en vriendin, Elsie Versfeld (69) het aan McCarthy Volkswagen se ‘Icebreaker Race’ in eMalahleni deelgeneem.

Douw, Etta en Elsie wys hul oulike hemde wat hulle gedra het tydens die wedloop vir die katte.

Hulle het die ‘Icebreaker Race’ ten bate van Feral Care Friends Middelburg kafgedraf in ’n tyd van 1:39:11!

Vir die drie was dié 10km wedloop heelwat makliker, nadat hulle onlangs die uitdagende 21km Wild Challenge tydens die Loskopmarathon gedoen het. Alhoewel hulle die afsnytyd net-net gemis het, het Vosges steeds ’n medalje gekry, omdat sy dit vir ’n organisasie gedoen het.

• Vosges was van kindsbeen af aktief en het haar spiesgooirekord nog tot onlangs toe gestaan by Hoërskool FA Odendaal.
Sy was ook ’n kranige landloopatleet en het saam met die polisie aan skyfskiet deelgeneem.

In 1989 is die onderste deel van haar been geamputeer, nadat sy die vorige jaar in ’n ernstige motorfietsongeluk was en het sy haarself gou geleer om met ’n prostese oor die weg te kom.

In 2015 het sy ’n aneurisme gehad en was weke in die hospitaal. Met haar tuiskoms moes sy haar vrese besweer en weer begin oefen.
Op 4 Junie 2016 het sy haar eerste parkrun in 53 minute gedoen en nou het sy al 332 parkruns agter die blad! Haar persoonlike beste tyd by die parkrun was 43:18 en sy het al 119 keer as vrywilliger opgetree! Verlede Saterdag het sy die Ushaka parkrun in KwaZulu-Natal voltooi, waar sy en Douw tans kuier.

Etta Vosges het al 332 parkruns gedoen!

• Vosges het ook al drie keer die 15km en een keer die 10km (verlede jaar) gedoen by die treinwedloop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button