News

KYK: Meyerstraat trokdrywer was binne spoedperk, maar wat van die ander?

Spoedwalle die enigste opsie in Meyerstraat!

Dinsdag se gebeure in Meyerstraat waar Janeke Brink voor ’n trok beland het, was bloot ’n hartverskeurende ongeluk.

Beeldmateriaal wat van binne die trok geneem is, wat Dinsdag betrokke was in die ongeluk, wys dat die trok wel stadig gery het, en selfs spoed verminder het voordat die Laerskool Middelburg leerling getref is.

Volgens die trok se paneelkamera het hy teen ’n spoed van 40km/u gery, en effens spoed verminder, voordat Janeke voor hom beland het.

Die trokdrywer het ook verskeie maal op die trok se toeter gedruk voor die noodlottige botsing.

Die beeldmateriaal sal nie gepubliseer word nie.

Die Middelburg Observer het vanoggend die beeldmateriaal ontvang.

Die trok was nié oor die spoedgrens nie, maar kon nietemin niks doen om die ongeluk te vermy nie.

Ten spyte hiervan, het die plaaslike vervoermaatskappy van wie die beeldmateriaal ontvang is, bevestig dat die maatskappy self vanjaar al agt trokdrywers afgedank het vir growwe verkeersoortredings.

Die maatskappy sê dat dit egter nie help nie, want drywers stap net weer by ander maatskappye in, en beland daar weer agter die stuur.

@middelburgobserver

Drie videogrepe wys net hoeveel trokke jaag in Meyerstraat, waar Janeke Brink (7) doodgery was. Baie van die trokke het ook dadelik gerem toe die drywers die kamera opmerk.

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

Volgens die maatskappy sal spoedwalle in Meyerstraat beslis ’n korttermyn oplossing wees vir honderde ander trokdrywers wat die spoedgrens daagliks oorskry.

Janeke se pa het gisteraand sy hart oopgemaak en gevra vir spoedwalle, en meer sigbare wetstoepassing.

Hy kon homself nog nie so ver kry om Meyerstraat, waar Janeke oorlede is, te besoek nie.

Vir nou gee hy al sy toewyding aan sy twee seuns, Janeke se nege en tien jarige broers, wat gesien het hoe hul sussie onder die trok se wiele beland.

Die oudste boetie het sy sussie onder die trok uitgetrek na die ongeluk.

’n Ooggetuie het op die toneel vertel dat die trok bo die spoedgrens was, maar die beeldmateriaal weerspreek dié weergawe.

Janeke se begrafnis vind volgende Woensdag om 11:00 vanuit die PPK Lofdal Gemeente in SADC-straat plaas.

Die diens sal gelei word deur pastoor, en kapelaan Callie Joubert, wat ook bystand op die toneel verleen het.

• Die Middelburg Observer het drie kort videos Donderdag in Meyerstraat geneem tydens ’n kranslegging vir Janeke op die plek waar sy oorlede is.

Die beeldmateriaal wys wat motoriste, voetgangers en skoolkinders daagliks moet trotseer in Meyerstraat, in dié digbewoonde woongebied van Middelburg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button