Rook aangeblaas vanaf veldbrand naby N11
Die erge rook vanoggend was afkomstig vanaf ’n veldbrand tussen die N11 (Hendrinapad) en die Bethalpad.
Talle inwoners het nogsteeds ’n lastige hoesie na die erge rook vanoggend wat vir ten minste twee ure oor Aerorand, Mineralia, Groenkol en gedeeltes van Eastdene en Gholfsig gehang het.
’n Joernalis van die Observer het kruis en dwars deur en om die dorp gaan ry om die oorsprong van die rook te kry.
Daar is egter oral gebrande velde, vanaf Nasaret, dwarsdeur agter die Middelburg Mall verby tot by die Vandyksdrifpad.
Gemeenskapspolisiëringsforum voorsitter, Juanitha Groenewald sê die brand wat die erge rook veroorsaak het, was weens ’n veldbrand tussen die N11 (Hendrinapad) en langs die Vaalbank informele nedersetting verby tot naby die Bethalpad. Alhoewel dit ’n klein entjie vanaf die N4 was, het die wind die rook aangewaai dorp se kant toe.
- Vroeër vanmiddag was daar ook ’n veldbrand tussen die Middelburg Observer kantore en Meyersbrug en het rook ’n geruime tyd oor die brug gewaai.

