‘Ry nog, toe sak pad net in’ – man vertel van sinkgat
Een oomblik ry jy nog en die volgende oomblik gee die pad net mee!
Die spreekwoordelike, “die aarde sluk my in,” het gister in Clubville gebeur.
Gerrie du Toit vertel dat hy gisteroggend vroeg gery het werk toe en wou draai op die hoek van Hobson- en Robertsonstraat. “Ek het seker so 5km/u gery en wou draai, toe sak die pad net in en my voertuig staan met sy agterkant in die lug!”
Hy meld dat die gat nie daar was toe hy gery het nie.
“Ek vermoed die waterpyp het al ‘n geruime tydjie voor ek daar gery het, gebars en die grond onder die pad weggespoel Toe ek daaroor ry het die pad net ingekalf en het die sinkgat gevorm.”
Gerrie weet nog nie wat is die skade sy Etios se onderstel nie. Hy kon egter nie na die voorval met die kar ry nie.
Die waterpyp is intussen herstel, maar die padoppervlak is nog nie heeltemal reggemaak nie. Rdl. Elsie Vermooten het inwoners gevra om alternatiewe roetes te gebruik tot die pad volgende week reggemaak word. Die area is met dromme toegemaak.
Lees ook: Video: Pad waar voertuig in sinkgat beland het, tydelik gesluit
- As jy weet van enige ernstige probleme met slaggate of sinkgate wat verkeer kan beïnvloed, stuur ‘n WhatsApp-foto met ‘n kort beskrywing waar dit is na 072 248 3855.
