News

Boeretroos te laat op begrafnis…

Die koppie koffie wat jy nooit gedrink het nie.

Te besig.

Te besig.

Te besig!

Later?

Dalk later.

En dan drink jy nooit daardie koppie koffie nie.

Jy drink hom by die troosdiens.

Jy drink hom saam met die begrafnisbroodjies.

Eers nadat jy al die mooi fototjies op die kerkskerm sien flits het.

Die foto wat nou daar van voor in die kerk vir jou staar – leweloos.

Die pragtige ruiker.

Al die mooi staaltjies oor die man wat in die pragtige kis lê met goue handvatsels – leweloos daar lê.

Sinies?

Nee, nee, nee, inteendeel.

Dit is die dood wat my laat lewe het.

En dit is nou die koppie koffie waarvoor ek nie volgende keer gaan nee sê nie

Ken Bere de Beer van sy langhaar dae as dwelmspeurder tot sy ommekeer – wat in die kantoor vir my kom bid het.

Bere het elke oggend gestap, Springbokstraat op en af.

Dit is daar waar ons groepie fietsrymaats hom gereeld gekry het.

Hierdie oggend was anders, was alleen en ons het dik stukke gesels.

Opgewonde oor die koffie wat ons sou gaan drink.

Wou by Bere meer weet oor die dag toe hy deur dwelmhandelaars in Blancheville aangehou en byna doodgeslaan is.

Nou het ons nooit daardie koppie koffie gaan drink nie… en ek sal nooit die storie van Blancheville hoor nie.

Die dood wag nie totdat jy klaar jou koffie gedrink het nie.

Gaan lewer twee weke gelede van my boeke, Ink is dikker as bloed, by BT Boeke af.

Tussen al die boeke kom die vriendelikste gesig tevoorskyn.

Hy stel homself voor: “Ek is Ruwaan”.

Ruwaan Jordaan is Saterdagoggend oorlede.

Dink nogal, sjoe jy kry nie meer sulke goedgemanierde, vriendelike, jong mans nie.

“Drink saam met ons koffie, ek maak die lekkerste koffie in die dorp, ek belowe.”

Sy oë vra mooi.

Sy oë sê “drink saam met my ’n koppie koffie”.

Maar nee, besig, jammer nie nou nie…

‘n Week later is daar ’n berig op die Middelburg Observer se webblad: “Vriendelike verkoopsman sterf by sy ma se huis”.

Dit is Ruwaan, Ruwaan Jordaan (33).

Dood.

Nog ’n koppie koffie wat ek nooit gedrink het nie.

En nooit weer kan drink nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button