Video wys hoe vinnig ‘n hekmotor gesteel word
CCTV videomateriaal wys hoe diewe in minder as twee minute wegkom met 'n hekmotor!
In bietjie meer as ‘n minuut en ‘n half het diewe ‘n palissadehek van die spoor af geruk en weg gekom met ‘n hekmotor.
Hekmotors word nou byna net so baie soos watermeters in Middelburg gesteel.
Donderdag is berig dat daar ‘n hekmotor tydens die kragonderbreking Woensdagaand in Proteastraat (Kanonkop) gesteel is en vroeër in die week een in Van Wyk Louwstraat in Gholfsig.
Daar is intussen verneem dat daar Dinsdag in die vroeë oggendure ‘n hekmotor met battery gesteel is in AG Visserstraat en Donderdagnag is een in Broodboomstraat (Kanonkop) gesteel.
Die gesin van AG Visserstraat (wat anoniem wil bly) het die videomateriaal van hul kringtelevisiekamera’s goedgunstiglik beskikbaar gestel om te wys hoe vinnig dit gedoen is.
Die boewe het kort voor 02:00 die palissadehek van die spoor afgehaal en blitsig die hekmotor en battery gesteel. ‘n Mens kon duidelik sien dat daar twee diewe is en dat een van hulle wit tekkies gedra het.
Na die diefstal het hulle in ‘n voertuig geklim wat vir hulle net buite die sig van die kamera gestaan en wag het. Sodra hulle in die voertuig klim, sien ‘n mens net die blink van die kar en die ligte as dit in die straat af ry.
Wat interessant is, is dat die diewe nie eers omgegee het om ‘n lawaai te maak nie. Die gesin het egter niks gehoor nie, omdat die kamers aan die anderkant van die huis is.
@middelburgobserver Diewe steel in minder as twee minute ‘n hekmotor in AG Visserstraat, Gholfsig (Middelburg).
